Sprinkaanswerms oënskynlik onder beheer

DIT wil voorkom of die kilometers-lange sprin­kaanswerms wat verlede week op dele van die Klein Karoo toegesak het, nie meer vandeesweek aktief was nie.

Lohan Fourie wat in die Calitzdorp-omgewing boer en JC du Preez van ’n plaas by Oudemuragie naby De Rust het Dinsdag albei gesê daar was sedert einde verlede week nie swerms aktief in hul omgewings nie.
Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap en ’n boer in die Oudtshoorn-omgewing, het ook gesê hy is nie tans bewus van probleme in die streek nie.

Volgens hom is dit belangrik dat boere ingelig moet wees oor wat hulle te doen staan om sprin­kane te beheer. ’n Sprinkaanbeheerbeampte-kursus is gister by De Hoek aangebied waar boere inlig­ting kon ontvang het oor onder meer die regulasies ten opsigte van die gebruik van gif om sprinkane te bespuit.
Wes-Kaapse regering bewillig R5 miljoen.

Die Wes-Kaapse regering het verlede week R5 miljoen onmiddellik beskikbaar gestel vir persoonlike beskermende toerusting, spuitpompe en lugbespuitingsondersteuning aan spanne om sprin­- kaan­swerms in die Wes-Kaap te bekamp.

“Die bekamping van die sprinkaanbesmetting is van kritieke belang vir voedselsekerheid en die voortbestaan van boerderybedrywighede,” het premier Alan Winde gesê.

Hy het ook aangedui dat hy die nasionale mi­nister van landbou, Thoko Didiza, skriftelik gevra het vir addisionele steun. (Deur Liesel le Roux)