TWEE teenstrydige Hooggeregshofuitsprake binne twee dae het verlede week tot verwarring en spanning in Kannaland gelei met die munisipale geboue op Ladismith wat Woensdag (16 Maart) sowat drie ure lank beset is.
In die eerste uitspraak verlede Maandag (14 Maart) het regter J Mangcu-Lockwood beslis dat die ANC se skorsing in Februarie van die ANC- burgemeester, Nicolaas Valentyn, en ANC-onderburgemeester, Leoni Stuurman, onwettig en ongeldig was en dat hulle in hul posisies herstel moet word.
Valentyn en Stuurman het hulle hierna tot die hof gewend om hul skorsing deur hul party tersyde te stel. Hulle is in Januarie by ’n raadsveradering in dié posisies verkies nadat mosies van wantroue in die vorige burgemeester en onderburgemeester, Icosa se Jeffrey Donson en Werner Meshoa, aanvaar is.
In ’n tweede uitspraak Dinsdag (15 Maart) wat Icosa voor die hof gebring het, het regter DM Thulare egter bevind die “voortgesette besetting van die posisies van burgemeester en onderburgemeester” deur Valentyn en Stuurman is onwettig, ongrondwetlik en ongeldig. Valentyn en Stuurman het appèl teen dié uitspraak aangeteken.
Deon Meyer berig dat die hulp van die polisie verlede Woensdag ingeroep moes word nadat beskuldigings deur die Valentyn-kamp en die Donson-kamp oor en weer gevlieg het. Klagtes van aanranding is ook by die polisie ingedien.
Volgens Donson, wat ook die leier van Icosa is, het hulle aangeneem die uitspraak van regter Thulare maak die aanstelling van Ian Avontuur as waarnemende munisipale bestuurder ongeldig. “Daarom het Morné Hoogbaard en al die werkers wat deur die vorige administrasie geskors is, bloot net Woensdag gaan werk. Ons het nie die kantore beset nie, anders sou die polisie ons uitgesit het. Ons het die kantore verlaat toe die ANC ons hul appèl teen ons hofuitspraak getoon het.”
Avontuur het intussen die besetting van die munisipale kantore verlede Woensdag deur ontevrede Icosa-lede ten sterkste veroordeel en het ook later klagtes teen Hoogbaard, die vorige munisipale bestuurder, by die polisie ingedien.
Sers Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat vier klagtes ingedien is na die onrus by die Munisipaliteit.
Avontuur het die hoop uitgespreek dat die Appelhof binnekort finaliteit sal bring oor al die regsvraagstukke wat tot die spanning gelei het.
Volgens hom gaan basiese dienslewering voort, en het hy die amptenare wat onder moeilike omstandighede basiese dienste aan die gemeenskap lewer, bedank.
“Kannaland word deur steil uitdagings in die gesig gestaar en daar lê ’n enorme taak voor om die munisipaliteit op ’n nuwe pad van volhoubare dienslewering te plaas. Ek is verbind tot oop, skoon regering en kwaliteit basiese dienslewering.” (Deur Liesel le Roux)
Spanning na Kannaland-hofuitsprake
Ian Avontuur, Foto: Deon Meyer