DAAR is steeds groot onsekerheid rondom die regsgeldigheid van ’n besluit van die Groter Oudtshoorn-raad verlede Donderdag (25 Junie 2020) om twee van die dorp se DA-raadslede, Julia le Roux en George Kersop, op verpligte verlof te plaas.
Le Roux, speaker van die raad, het Dinsdag aangedui dat sy ’n regsmening gevra het oor die regsgeldigheid van die prosedure wat gevolg is.
Sy het terselfdertyd ’n opvolgvergadering van die raad wat Dinsdag sou plaasvind, uitgestel.
Die Groter Oudtshoorn se raadslede is na verneem word, erg verdeeld oor die aangeleentheid.
Die onsekerheid het ontstaan nadat die DA-raadslid Hendrik (Stokkies) Ruiters Donderdag voorgestel het dat die raad die tweede deel van die Webber Wentzel-verslag moet goedkeur, maar daarna sy voorstel verander het om die goedkeuring van ’n amendement van raadslid Vlancio Donson (Icosa) in te sluit.
Die amendement het gevra dat Le Roux en Kersop ondersoek moet word omdat hul name in die Webber Wentzel-verslag genoem word.
Dié deel van die vergadering, wat glo “in komitee” plaasgevind het en vertroulik was, was wel op die Zoom-toepassing te sien.
Le Roux het Dinsdag ’n kort verklaring uitgereik oor die uitstel van die raadsvergadering. Volgens haar het sy die besluit geneem om die vergadering uit te stel omdat dit die speaker se plig is om toe te sien dat alle sake wat die Oudtshoorn-raad oorweeg, wettig is.
“Die vertroulike item wat verlede week deur die raad oorweeg is, het gespruit uit ’n verslag van die firma Webber Wentzel en hou ernstige gevolge in vir die persone wat daarin genoem word.
“ Deels as gevolg van die kompleksiteit daarvan om ’n virtuele raadsvergadering aan te bied, vermoed ek dat ’n prosedureel foutiewe amendement voorgestel is.”
Sy sê sy het haar kommer oor die besluit met die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, bespreek. Smit het tot Dinsdag as munisipale bestuurder waargeneem.
Volgens Le Roux is die regsmening ook belangrik omdat dit koste vir die raad tot gevolg kan hê as die saak nie wettig deur die raad hanteer word nie. (Deur Liesel le Roux)
