Sekuriteitsmaatskappy vereer polisiebeamptes vir na-ure-diens

’N PLAASLIKE sekuriteitsmaatskappy, Blacklist Security, het verlede week sertifikate as die erkenning van uitmuntende diens aan vyf polisie­beamptes van die Misdaadsvoorkomingseenheid op Oudtshoorn oorhandig.

Volgens Wynand du Plessis van Blacklist Security, was dié groep polisiebeamptes bereid om veel meer as hul plig te doen toe hulle na-ure – in hul eie tyd – diewe vasgetrek het wat oor ’n onbepaalde tydperk duisende rande se vleis by ’n plaaslike besigheid gesteel en dan weer aan ander verkoop het.

“Die polisie kry soms baie slegte kritiek van die publiek af, maar ons sien nooit die goeie werk wat hulle doen nie,” het Wynand gesê.

Blacklist het volgens Wynand die perseel vir twee dae dopgehou, en daarna die beamptes ingelig van die misdrywe waarop hulle onmiddelik gereageer het. (Deur Stefan Skapie Goosen)