Covid-19 neem sy loop op dorp

MET die aantal Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn wat vandeesweek gestyg het, moes twee supermarkte op die dorp Maandag hul deure sluit ná kontak met positiewe Covid-19-gevalle.

Pick n Pay het sy deure reeds vroegoggend ge­sluit om die winkel te ontsmet nadat iemand wat positief getoets is die winkel na verneem word besoek het, en was Dinsdagoggend weer oop.

Checkers het eers later Maandag sy deure ge-sluit en Dinsdag weer geopen.
Checkers se deure was Dinsdag tot laatoggend nog toe terwyl verskeie inwoners beweer het dat ’n sekuriteitspersoneellid positief vir Covid-19 getoets is.

Volgens die media-afdeling van die Shoprite-groep is die winkel gesluit nadat bevestiging ontvang is van “positiewe toetsing vir Covid-19” en is ’n professionele ontsmettingsfirma ingebring om die winkel te ontsmet en deeglik skoon te maak.

Die groep het aangedui dat nadere besonderhede oor gevalle nie verskaf kan word nie omdat werknemers se privaatheid gerespekteer word.

Voordat die winkel Dinsdag geopen is, is die personeel almal eers buite die winkel by ’n mobiele kliniek, gesif (“screened”) vir moontlike simptome en toetsing. Volgens Shoprite moet enigeen wat met ’n positiewe geval in nabye kontak was, 14 dae lank in self-kwarantyn gaan.

Minstens ses winkels op die dorp moes al tydelik hul deure sluit ná kontak met Covid-19. Die meeste het baie vinnig gereageer, iets waarvoor hulle ’n klop op die skouer verdien en waarvoor inwoners baie dankbaar kan wees.

Covid-19 by een skool
Een Covid-19-geval is by ’n skool op Oudts­hoorn gerapporteer.

Fezekile Sekondêr het Sondag ’n brief aan ouers gestuur dat ’n klaskamer gesluit en die skool ingevolge die departement van gesondheid se regulasies ontsmet word nadat hulle Vrydag laat ingelig is van die geval. Die skool het ook aangedui dat ekstra voormaatreëls getref word om leerders en die personeel te beveilig. Op aanbeveling van die Covid-19-distrikkomitee was dit nie nodig om die skool te sluit nie.

Syfers oor Covid-19-gevalle by skole op die onderskeie dorpe in die streek is
nie beskikbaar nie.

Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), word slegs statistiek vir onderwysdistrikte verskaf en het 11 werknemers en 12 leerders in die Eden en Sentraal-Karoo Onderwysdistrik teen Dinsdag positief getoets.

Hammond het nie aangedui of die werknemers almal onderwysers is nie.

Munisipale geboue in Kannaland sluit
Die kantore van die Kannaland Munisipaliteit is Donderdag op Ladismith, Calitzdorp en Van Wyksdorp tydelik gesluit nadat ’n amptenaar positief getoets het vir Covid-19. Alle munisipale geboue is ontsmet en het weer gister (1 Julie 2020) geopen. (Deur Liesel le Roux)