Sonja Louw op Oudtshoorn gevonnis vir brandstigting en dronkbestuur

Sonja Louw

’N VROU van Oudtshoorn is gister in die streekhof op twee klagtes van brandstigting, een van poging tot brandstigting asook dronkbestuur skuldig bevind en gevonnis.
Die 58-jarige Sonja Louw het in ’n pleitverduideliking skuldig gepleit op al die klagtes.
Louw het erken dat sy op 29 September 2018 die huis van Helen Oliphant in die Karoo Park aftree-oord aan die brand gesteek het, op 12 Oktober 2018 probeer het om ’n huis van Morné Janse van Rensburg aan die brand te steek en op 1 November 2018 weer die huis van Oliphant aan die brand gesteek het. Sy het ook skuldig gepleit op die aanklag dat sy op 1 Oktober vanjaar ’n motor onder die invloed van alkohol bestuur het.
Haar regsverteenwoordiger, ddv Steven Lourens, het ter strafversag­ting die hof versoek om in ag te neem dat sy skuld beken het en berou toon oor wat sy gedoen het.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het versoek dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis vir die ernstige misdrywe is. Sy het ook vier vorige veroordelings.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die klagtes van brandstigting en poging tot brandstigting vir vonnis saamgeneem en Louw tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis ingevolge Art 276 (1) (i) wat beteken dat sy na die uitdiening van tien maande om parool aansoek kan doen.
Op die klagte van dronkbestuur is sy ’n boete van R10 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê.
Die landdros het ’n versoek van Louw se regsverteenwoordiger om nie haar bestuurslisensie in te trek nie, goedgekeur, maar sy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Sonja Louw op Oudtshoorn gevonnis vir brandstigting en dronkbestuur"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*