Opreg lief vir Oudtshoorn en sy mense

Atleet, afrigter, fotograaf, oud-sakeman, sielkundige en passievolle Oudtshoorniet. Ontmoet vir Hans van der Veen. Foto verskaf

“DIE lewe het soms so half ’n manier om sirkels met jou te loop,” sê Hans van der Veen een Sondag­aand terwyl ons koffie drink. Sy vrou Lindie, ’n onderwyseres, glimlag onderlangs terwyl sy vraestelle merk en ek weet sy dink, soos ek, dat niks Hans se lewe beter kan opsom as juis daardie stelling nie.
Hans se lewe is vol sirkels en sal waarskynlik altyd wees, want hier is ’n mens wat nooit sal voel hy is klaar nie. Vir hom is daar altyd iets wat hy nog wil doen, iets wat hy kan doen vir sy gemeenskap, ’n verskil om te maak iewers.
Ek het Hans die eerste keer in 2018 ontmoet by Klein Karoo U.lab (’n unieke raamwerk om stelsels deur bewustheid te verander), maar dit was beslis nie die eerste keer dat ek van Hans gehoor het nie.
Hans is is een van daardie mense wie se naam al sinoniem geraak het met Oudtshoorn en sy mense. Baie ken hom as die uitblinkeratleet en -afrigter, briljante fotograaf wie se werk in tydskrifte soos De Kat gepryk het, ander weer as ’n suksesvolle besigheidsman, kliniese sielkundige of soos ek, as die U.lab-mentor.
Maar meeste mense ken hom as iemand wat opreg lief is vir mense, veral vir sy mense, die mense van Oudtshoorn en omgewing.
Hans is in 1966 gebore in die Oudtshoorn Hospitaal as ’n laatlam van vyf kinders, met drie ouer broers en een suster. Sy pa het in die De Kombuys omgewing geboer op die plaas Grootkraal, wat vir sowat 140 jaar in die Van der Veen-familie se besit was totdat dit in 2010 verkoop is.
Dit is ook die plaas waarop Oudtshoorn se wêrelberoemde Kango Grotte geleë is. Hans se Oupa was vir baie jare die hoofgids by die grotte.
Hans het sy laerskooljare by die Boomplaas-plaasskool deurgebring en daarna in 1983 by die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer.
Sy ouers, veral sy ma, wat ’n maatskaplike werker was in die dorp, was albei baie betrokke by die gemeenskap.
“Baie van die gemeenskapsprojekte en liefdadigheidsdinge waarby ek in die dorp betrokke is, herinner my aan my ma. My pa was minder sosiaal, maar hulle het albei geglo jy moet by jou medemens en jou gemeenskap betrokke wees. My ma het geglo dis deel van jou menswees.”
Dit het vroeg duidelik geword dat hy ’n natuurlike middelafstand- en landloopatleet was, ’n sport wat hy vandag nog saam met fietsry en roei geniet.
Die Springbokhindernisatleet, Nollie Meintjies, het hom in sy hoërskooljare afgerig en ’n groot rol in Hans se lewe gespeel.
“Hy was hierdie positiewe, entoesiastiese mens wat onwrikbaar in my geglo het. Hy het my as ’n 13-jarige atleet wat in 1979 laaste geëindig het by die SWD kampioenskappe, gevat om minder as drie jaar later my eerste SA rekord in die 1 500 vir seuns o.17 op te stel, wat vandag nog staan.”
“Sport het vir my baie deure oopgemaak,” sê Hans, maar meer belangrik vir hom is die ver­trouensverhoudings en egte vriendskappe wat hy deur die jare deur sport gevestig het.
“As voorsitter van die Eden Straatmylreeks wat in Desember in Oudtshoorn en Hartenbos plaas­vind, het my verhouding met mense soos Jean Verster van NWU (wat vir Caster Semenya afrig), DB Prinsloo (direkteur van sport by Kovsies) beteken dat ons byvoorbeeld op kort kennisgewing groot skenkings kon kry.”
’n Sportbeurs het hom ook in staat gestel om by die Potchefstroom Universiteit (deesdae Noordwes Universiteit – NWU) ’n BA-graad in sielkunde en rekreasiekunde te verwerf.
Dis eers nadat hy by die Johannesburg Gevangenis begin werk het en besig was om sy meestersgraad in kliniese sielkunde te voltooi dat sy fotografie-reis begin het.
In 1991 het hy toevallig gesien dat die Market Theatre Photo Workshop Foundation fotografie­kursusse aanbied en hy het gedink dit is die ideale geleentheid om te leer hoe om sy ingewikkelde “manual” Nikon FM2-kamera te leer gebruik.
“n Hele nuwe wêreld het vir my oopgemaak. Mense soos David Goldblatt, TJ Lemon, James Nacthwey, Ken Oosterbroek en Joao Silva was ons mentors – ek het toe nie eens geweet wie hulle is nie.”
“Dit het my ook vir die eerste keer werklik met anderskleurige mense in noue sosiale kontak gebring, waar ons op ’n gelyke vlak deur ’n kreatiewe proses mekaar kon vind en saam die geleenthede wat fotografie bied om sosiale bewust­heid te bevorder, kon ontdek.”
Hans het besluit om in 1994 terug te trek na Oudtshoorn waarna sy eerste huwelik verbrokkel het.
“Ek was emosioneel glad nie op ’n goeie plek nie. Ek was ook erg gefrustreerd met die manier waarop sielkunde in daardie jare bedryf is deur hoofsaaklik mense se gedrag met medikasie te beheer. Dit het gelukkig nou baie verander.”
Daarom, toe ’n vriend voorstel dat hulle saam ’n besigheid begin, het hy die kans aangegryp.
Die baie suksesvolle Photo Workshop is in 1996 gebore, ’n innoverende besigheid wat fotografie, grafiese ontwerp, bemarking en toerismeprodukte gekombineer het.
Later het nog ’n besigheid, Grand Street Studios, daaruit voortgevloei.
“As ek nou daaraan terugdink, meet ek nie die sukses van PhotoWorkshop aan geld nie, maar aan hoe die besigheid ’n platform geskep het vir die talle mense wat daar gewerk het om hulself verder te ontwikkel.”
Toe die KKNK in 2011 Hans nader om by die “Optelgoed-kunsuitstalling” betrokke te raak, het hy ’n geleentheid gesien om sielkunde met foto­grafie te kombineer.
Dié uitstalling was vir Hans byna soos groepte­rapie, waar verskillende mense foto’s moes neem van goed wat hulle gelukkig maak, waarvoor hulle bang is, wat vir hulle spesiaal is. Die sukses van dié projek is die daaropvolgende jaar opgevolg met die Kliplokasie-fotoprojek.
“Ek dink wat my so opgewonde gemaak het oor hierdie projekte was om mense se stories te hoor, hul stories te vertel en dit met die res van die gemeenskap te deel. Om iets te beleef van wat dit vir mense beteken om raakgesien en gehoor te word.”
Beide ervarings het Hans laat dink om weer voltyds na sielkunde terug te keer.
“Jy kom op ’n punt en besef dat dit wat buite jou is, ook binne jou is. So, het ek die ‘disconnect’ wat ek buite my gesien het, ook binne myself gesien. Ek was 45 en hoewel ek baie vervulling in my werk gehad het, het dit begin voel na ’n mal gejaag na geld.”
Hans se pad het hom geleidelik in ’n vol sirkel teruggebring na die sielkunde toe waar hy sedert 2013 as Hoof van Sielkunde by die Health Centre South Coast (HCSC) Oudtshoorn Siekeboeg by die South African Medical and Health Services (SAMHS) werksaam is en veral betrokke is by die skep van HIV-bewustheid.
Sedert 2017 lei hy ook die Klein Karoo U.lab- hub; en sy kamera… dié is nooit te ver nie. (Deur Louis Venter)

Be the first to comment on "Opreg lief vir Oudtshoorn en sy mense"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*