Sogenaamde bedankings is toe net gerugte…

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het geen bedankings van enige raadslede ontvang nie, het Ntobeko Mang­q­wengqwe, senior woordvoerder van die munisipaliteit, gistermiddag aan Die Hoorn gesê.

“Ons kan dus nie die gerugte van enige bedankings bevestig nie.”

Gerugte is die afgelope week op sosiale media versprei dat “meer as vyf” DA-raadslede gister sou bedank.
Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, sou ook glo gister bedank het.

Omdat Sylvester ’n proporsionele raadslid is wat aangewys is deur die DA, sal die party in so ’n geval bloot net ’n plaasvervanger in sy plek aanwys en sal ’n tussenverkiesing nie nodig wees nie.

In daardie stadium sou Sylvester nog gister in ’n tugverhoor van die DA se Federale Raad verskyn het.
Dié tugverhoor is egter intussen tot ’n latere datum uitgestel.

Verskeie inwoners het vandeesweek hul vermoede met Die Hoorn gedeel dat dié gerugte net deel was van po­gings om onrus en verdere ver­deeld­heid op Oudtshoorn te saai.

Dit was inderdaad ’n week van onrus op Oudtshoorn. Vrydag het taxibestuurders rommel in die middedorp se strate aan die brand gesteek om protes aan te teken teen die toe­stand van die toilette by die taxistaanplek en Maandag en Dinsdag het die Backyard Dwellers of Hope die N12 met brandende buitebande en takke versper om die aandag te vestig op hul huisnood.

(Deur Liesel le Roux)