Skok, hartseer, vrees ná skietdood

Heelbo: Ontstelde inwoners Dins­dag buite die Oudts­hoorn Poli­sie­kan­toor nadat drie verdagtes in die hof verskyn het.
Onder: Catherine Saptou (regs), ma van Justin Booysen (foto regs) en sy suster Lollitta buite die polisiekantoor.
Foto’s bo en onder: Angelique Erasmus

INWONERS van Rosebank en omliggende woonbuurte op Oudtshoorn het vandeesweek met skok, hartseer en vrees gereageer op die skietdood van Justin Booysen (30) Sondagoggend omstreeks 01:00 in sy huis in Bella Rosa-singel, Rosebank.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was die skietery na bewering bendeverwant.

Booysen se dood volg net meer as drie maande op die dood van sy jonger broer Dueron Saptou (27) wat op 10 Augustus ná ’n motorfietsongeluk in Langenhovenweg op Oudtshoorn gesterf het.

Drie mans vas
Garnett Wicomb berig dat drie mans, Simphiwe Ndani, Ebrahim Malgas en Breyton Bruiners, verdagtes is en Sondag deur die Polisie in hegtenis geneem is. Hulle staan tereg op aanklagte van moord en aanranding om ernstig te beseer.

Vriende en familie het Maandag toe die mans die eerste keer in die hof op Oudtshoorn verskyn het, met plakkate buite die hof saamgedrom wat vra dat geen borgtog toegestaan moet word nie.

Die hof was Maandag stampvol met ’n sterk polisie­teenwoordigheid en talle belangstellendes wat in die hof se gange gewag het om te hoor wat gebeur het.

Dinsdag het ’n groot groep mense ná hul tweede verskyning by die polisiekantoor saamgedrom terwyl hulle gewag het dat die drie verdagtes teruggeneem word na die gevangenis en as demonstrasie dat die gemeenskap genoeg gehad het van misdaad.

Die drie mans sal eerskomende Maandag (25 November) aansoek doen om borgtog. Ndani se regsverteenwoordiger is Vaughn Shone terwyl Anzelle Laubscher namens Malgas en Bruiners sal verskyn.

Moeder draai om in hospitaalgang
Catherine Saptou, Booysen se ma, het Dinsdag aan Angelique Erasmus gesê sy het in die gang omgedraai toe sy haar seun se liggaam in die hospitaal op ’n bed sien lê.

“Ek kon nie verder loop nie, die toneel voor my was te erg om te aanskou,” het sy gesê.

Saptou sê toe sy kort ná die skietery by haar seun se huis aangekom het, het haar seun se twee nefies,

Shaun en Shane Saptouw, en hul pa, Adam, hom reeds in ’n motor gelaai en na die hospitaal geneem.

Volgens Saptou is haar seun van onder sy kakebeen in die gesig geskiet en was hy reeds dood met haar aankoms by die hospitaal.

Sy ontken gerugte dat haar seun ’n bendelid was. “Justin was nie ’n bendelid nie, en het ook nie aan die nommers behoort nie.

“Hy was wel ’n dwelmsmokkelaar, maar beslis nie in ’n bende nie.”

Justin het reeds op jong ouderdom die skool verlaat en moes ’n manier vind om vir homself te sorg, vertel sy. Hy het twee kinders, ’n seuntjie van een en dogtertjie van vyf, wat volgens sy ma baie erg oor hom was.

Hy sal volgende naweek vanuit Tulipstraat 7 in Bongolethu, Oudtshoorn, begrawe word.

Justin word deur sy ma, ’n broer, Peter John, en twee susters, Lollitta en Loésha, oorleef.