Robin’s Nest onder water na diefstal van koperkraan

Stock foto

DIE diefstal van ’n koperkraan aan die agterkant van Robin’s Nest, ’n binne­versieringswinkel in Kerkstraat, Oudts­hoorn, het veroorsaak dat byna die hele besigheid gisteroggend onder water was en massiewe skade gely het.

Lynette Janse van Rensburg, eienaar van Robin’s Nest, sê teen gistermiddag was die skade wat hulle kon bereken, reeds meer as R100 000. Sy en personeel was in daardie stadium nog besig om skade te bepaal.

Volgens haar is heelwat toerusting, nuwe meu­bels, rolle lap en blindings wat vir kliënte gemaak is, onherstelbaar beskadig.

Jaco Vorster, onder-voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, sê dit is tragies dat besighede in die huidige moeilike ekonomiese klimaat ook nog deur iets soos die diefstal van ’n kraan sulke groot skade moet ly.

Hy het sy ontsteltenis daaroor uitgespreek dat daar duidelik ’n afsetgebied op die dorp is vir gesteelde goedere.

“Die vraag moet gevra word: Wie koop dit?”

Verskeie mense het gister aan Die Hoorn gesê dat die diefstal van koper ’n groot probleem op die dorp is en dat byvoorbeeld ko­perdeurknoppe en koperplate gereeld gesteel word.

(Deur Liesel le Roux)