Gholfklub: Kommer oor veiligheid van spelers, diere

DIE veiligheid van spelers op die Oudtshoorn Gholfbaan is vir die bestuur van die klub al lank ’n groot bron van kommer.

Dié gholfbaan bestaan sedert 1903 met spelers uit al die dorp se gemeenskappe, asook talle vroue en kinders wat gereeld daar speel.

Kommer oor spelers se veiligheid het die afgelope week toegeneem toe die Backyard Dwellers of Hope Maandag en Dinsdag die pad langs die gholfbaan na De Rust met brandende bande en takke versper het.

Die groep, wat aangedui het dat hulle strukture langs die pad by die gholfbaan wil oprig, het Dinsdag reeds ’n eerste struktuur op die gedeelte tussen die 16de putjie en die begraafplaas gebou.

Die gholfbaan is nie doeltreffend omhein nie.

Volgens gholfspelers is hulle al gewoond daaraan om op die verskeie bowwe te wag dat mense wat deur die baan loop eers moet verbykom voordat hulle kan afslaan.

Volgens Paul Stroebel, klubkaptein, is die omheining van die baan die afgelope paar jaar stelselmatig afgebreek en weggedra.

“Mense het ’n vrye deurloop deur die baan en die nuutste bedreiging van moontlike plakkers langs die baan, vererger net die probleem,” sê Stroebel.

Die vrye toegang en deurgang bedreig ook die natuurlewe op die gholfbaan – veral die groot talle bergskilpaaie en groot hoeveelheid voëlspesies.

Volgens Pieter Strauss, lid van die klubbestuur, word skilpaaie tans doelloos doodgemaak of vermink deurdat hul doppe met klippe stukkend gekap word.

“Al hoe ons die gholfbaan kan beveilig, is om die baan te omhein met ’n hoë elektriese heining, maar die klub het nie daardie fondse nie. Dit gaan R360 000 kos, en ons gaan moet staatmaak op bydraes van mense en besighede.”

Die gholfklub het in samewerking met die Oudts­hoorn Besigheidskamer ’n rekening geskep waarin donasies gemaak kan word vir die omheining van die gholfbaan.

“Ons benodig 3 600 mense wat elk R100 skenk, maar enige donasie is welkom,” sê hy.

Bydraes kan inbetaal word in die rekening van die Oudtshoorn Besigheidskamer by Absa (rekeningnommer 4057514616, takkode: 632005 en verwysing (belangrik!): Gholfbaan-heining.

(Deur Higgo Jacobs)