Werk steeds versigtig met water die somer

TEN SPYTE daarvan dat sowat 75 mm reën verlede week in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam geval het, moet inwoners van die Groter Oudtshoorn steeds versigtig werk met die dorp se water.

“Die warm somermaande lê nog voor en die droogtekrisis is beslis nie verby nie,” sê Chris Swart, senior bestuurder: water en riool by die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Swart het ’n beroep op inwoners gedoen om steeds gehoor te gee aan waterbeperkings met ’n boete van R1 000 wat steeds geld vir mense wat waterbeperkings oortree.

“Totdat die reënvalpatroon nie na ten minste normaal terugkeer nie, sal die waterbeperkings ongelukkig in plek moet bly,” sê hy.

Indien inwoners bewus is van iemand wat nie gehoor gee aan die waterbeperkings nie, kan hulle dit by die munisipaliteit rapporteer by die volgende nommers: 044 203 3090/86 tydens werksure en 044 2037800/01 na-ure.

Hy sê die munisipaliteit fokus ook tans op hoë waterverbruikers en probeer vasstel wat die oorsaak van hul hoë waterverbruik is.

“Dit het al byvoorbeeld gebeur dat ons by ’n huis kom waar net iets soos ’n lekkende toilet die oorsaak van die hoë waterverbruik is.”

Die loslating van water uit die Raubenheimerdam vir watergebruikers stroom-af – wat ingevolge ooreenkomste tussen dié watergebrui- kers en die munisipaliteit tydens die bou van die dam aangegaan is en verpligtend is in Ja­nuarie, Februarie en Maart – het ook altyd ’n groot invloed op die daling van die damvlak.

• Die Raubenheimerdam se vlak het gister op 49,14% gestaan, waar dit twee weke gelede 39,02% was.
Die Raubenheimerdam het die ooreenstemmende tyd verlede jaar op 47,27% gestaan, baie dieselfde as wat dit tans is.