DIE gewilde oud-leerder van Ladismith en rugbyspeler van die Kannaland Hoërskole-rugbyspan, Mark-Anthony Pheiffer (18), is Saterdag na ’n hartroerende diens vanuit die Verenigende Gereformeerde Kerk op Ladismith begrawe.
Mark-Anthony het gesterf nadat hy en sy ma, Ansunette, en ’n tannie, Marlene, op 6 November in ’n ongeluk op die R62 was.
Die diens is gelei deur ds Jimmy Frans met sy boodskap uit Fillipense 3 vanaf vers 7: “Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos, want om Christus Jesus my Here te ken, oortref alles in waarde.”
Frans het gesê Mark-Anthony was ’n getroue lidmaat maar ook die grapjas in die jeugklas. Hy het verwys na jongmense wat na bevestiging “randfigure” word, en gesê hy weet Mark-Anthony sou ’n aktiewe lidmaat van die kerk gebly het.
Frans het Mark-Anthony se moeder gevra om die goeie seun wat sy geken het, te onthou. Sy het op ’n draagbaar vergesel van paramedici die diens bygewoon.
Frans het na sy diens sy kitaar geneem en die roubeklaers in koorsang begelei, waarna Abigail Overmeyer se sang tydens die lied “Jealous of the Angels” tot hoorbare snikke gelei het.
Mario Briekwa, ’n vriend van Mark-Anthony, het hom in `n roerende huldeblyk, as ’n staatmaker, omgee-mens en ’n vriend beskryf.
Die diens is deur ’n groot aantal jongmense in wit T-hemde bygewoon. Voor op hul hemde was ’n foto van die oorledene en agterop sy geboorte- en sterfdatum met die woorde “R.I.P Sparkie!” daarop bygewoon.
Tydens die teraardebestelling is 19 balonne die lug ingestuur.
(Deur Deon Meyer)