So werk dieresorg-organisasies in Oudtshoorn

Elmarie Swiegers (ACT SA), Colleen Smith (ODIN) en Ansa de Jager (Oudtshoorn Diereherberg) Foto: Hannes Visser Inlas: Lee-Ann van Sittert van The Cat Hotel. Foto Facebook

Die Hoorn ontvang gereeld klagtes of besware van inworners oor die optrede van sommige diere-organisasies wat in die dorp werksaam is. Dit is duidelik dat daar dikwels ’n gebrek aan kommunikasie is wat tot verwarring of selfs konflik lei.

Die Hoorn het verlede week gesels met verteenwoordigers van die vier vrywilliger-organisasies wat tans na dieresorg in die groter Oudtshoorn omsien. Die vier organsiasies is: Animal Care Team (ACT), Oudtshoorn Diereherberg, The Cat Hotel en Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN). Die eerste drie organisasies is in Oudtshoorn gestasioneer. ODIN se perseel is in George, maar hulle het voltydse werkers van Oudtshoorn wat hier werk.

’n Navraag oor die werksaamhede en fokusarea van die munisipale skut is verlede week aan die munisipaliteit gestuur en daar word op terugvoer gewag.

ACT
Animal Care Team (ACT) se koördineerder is Elmarie Swiegers. ACT bedryf ’n dierewelsyns-kliniek wat aan die einde van Februarie by Oostelikeweg 6 oopmaak nadat dit vanaf Van der Rietstraat verskuif het. ACT se kliniek verskaf veeartsdienste aan pensioenarisse, SASSA-begunstigdes en werklose troeteldier-eienaars. Hulle behandel slegs diere wat na die kliniek gebring word. Dienste word deur twee veeaartse gelewer wat teen ’n verminderde tarief werk.

Volgens Swiegers gebruik hulle ’n glyskaal om minimale kostes te hef. “Persone wat werkloos is, moet ’n polisieverklaring toon waar hulle beëdig dat hulle werkloos is. As iemand nie werkloos is nie, verwag ons ’n minimale betaling wat volgens ’n glyskaal bepaal word. Ons het veeartskostes, huurgeld en ander uitgawes om te dek, en kry tans bitter min skenkings.”

ACT se fokusarea is voorkoming eerder as ge-nesing of aannemings. “Die realiteit is dat daar eenvoudig te veel katte en honde is en die enigste manier om dit aan te spreek is deur sterlilisasie.

ACT konsentreer op sterilisasie en inenting, maar ons kliniek sien ook om na dieresorg en behande-ling van diere wat ingebring word,”sê Swiegers.

Die kliniek is van Maandag tot Vrydag oop. Maandae en Vrydae kan mense troeteldiere inbring wat mediese sorg benodig, Dinsdae en Donderdae word aan sterilisasie-gevalle gewy en Woensdae word slegs teatergevalle hanteer.

Swiegers is geregistreer as ’n inspekteur wat gemagtig is om persele te besoek en pligte uit te voer om veiligheid en versorging van diere te verseker. ACT hou ook gereeld inligtingsessies oor dieresorg by skole en klinieke. Vir meer inligting kontak Elmarie by 082 498 0177.

The Cat Hotel
Oudtshoorn se katte-hotel word deur Lee-Anne van Sittert vanaf haar huis en hoofsaaklik uit haar eie sak bedryf. Haar primêre fokus is die steri-lisasie van katte en die bekamping van die groot aantal rondloperkatte. Sy word gereeld deur mense gekontak vir hulp en raad oor katte. Die kat-hotel kry geen finansiële bydraes van enige organisasie nie en is aangewese op enkele goedgunstige inwoners, maar Lee-Anne dra self die basiese kostes om katte te huisves en vir aanneming beskikbaar te stel. Sy kry ook geen finansiële ondersteuning vir die sterilisasie van kolonies rondloperkatte nie.

Sy is beskikbaar om mense met siek of beseerde katte by te staan, maar dit is nie ’n gratis diens nie. Sy reël wel ’n verminderde tarief by die veeartse vir kat-eienaars wat haar om hulp nader.
Lee-Anne sê alhoewel sy op haar eie werk, werk sy ook saam met die ander organisasies om dieresorg in Oudtshoorn te verbeter en om hulp te verleen waar sy kan. Vir hulp of navrae oor katte kan Lee-Anne by 083 334 0172 gekontak word.

Oudtshoorn Diereherberg
Ansa de Jager het Oudtshoorn Diereherberg sowat ’n jaar gelede naby die munisipale skut gevestig. Volgens haar is daar ’n groot behoefte aan ’n veilige plek waar hawelose honde veilig gehuisves en versorg kan word terwyl daar na geskikte huise gesoek word.

Die diereherberg het hokke wat Ansa met skenkings opgerig het nadat diereorganisasies opdrag gekry het om alle diere wat by die munisipale skut gehuisves word, te verwyder. Alhoewel Oudts-hoorn Diereherberg primêr ’n aannemingsdiens is, hanteer hulle ook noodgevalle. Die behandeling van diere in gevalle van nood is nie ’n gratis diens nie aangesien veeartse op die dorp gebruik word. Oudtshoorn Diereherberg is van skenkings uit die gemeenskap afhanklik vir die voorsiening van kos aan die diere sowel as ander onkostes soos vervoer en salarisse van personeel by die herberg. Ansa se kontakbesonderhede is 072 070 5977.

Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN)
Volgens Colleen Smith van ODIN, fokus hulle op daaglikse uitreikings, bewusmaking en opvoeding. Hulle huur tans ’n perseel in George waar diere gehuisves word. Hulle dien tans die hele Eden-distrik en word deur Marlene Mennie bestuur. ODIN het sewe werknemers wat permanent in Oudtshoorn werk asook twee komiteelede.

Hulle voorsien medikasie en neem ook diere na veeartse in Oudtshoorn sowel as in George vir behandeling en sterilisasie. ODIN se basiese dienste is gratis, maar diere-eienaars kan verantwoordelik gehou word vir mediese kostes.

Volgens Smith is dit noodsaaklik dat eienaars hulself vergewis van wat met ’n dier gaan gebeur as dit weggeneem word. Sy sê sommige diere is in so ’n swak toestand dat hulle nie weer in die sorg van eienaars teruggeplaas kan word nie. Sy sê ook dat ODIN die eienaars op skrif inlig oor die roete wat ’n dier gaan volg en of daar kostes verbonde is indien die dier in hulle sorg geplaas word.

ODIN is ook ’n aannemingsdiens waar mense nadat hulle goedgekeur is, honde of katte kan aanneem. Smith is ook ’n geregistreerde inspekteur wat persele kan besoek en diere wat swak versorg word, kan verwyder. ODIN se kontakbesonderhede is 072 084 1374. (HANNES VISSER)