INWONERS bo 60 jaar wat in ouetehuise woon, is die eerste ontvangers van die Covid-19-inentings in die Tuinroete Distrik, wat die Groter Oudtshoorn en Kannaland insluit.
Inwoners van ouetehuise in die George-distrik is sedert Maandag (24 Mei) ingeënt, met inwoners van ouetehuise in die res van die Tuinroete (Oudtshoorn, Kannaland, Hessequa, Knysna, Bitou en Mosselbaai) wat vanaf Maandag 31 Mei ingeënt sal word.
“Ons beplan om in Junie die res van diegene ouer as 60 wat geregistreer het, in te ent. Dit hang egter af van die aantal inentings wat ons ontvang en wanneer ons dit ontvang,” sê Zee Brickles, distriksdirekteur.
“Diegene wat geregistreer het, sal ’n SMS ontvang met ’n datum, tyd en plek van inenting. SMS-boodskappe sal enkele dae vooruit gestuur word sodat mense die nodige reëlings kan tref. Moet asseblief nie inentingslokale besoek as u nie ’n SMS ontvang het om u afspraak te bevestig nie.”
Brickles het inwoners van 60 jaar en ouer aangemoedig om vir hul inenting te re-gistreer, en die gemeenskap, vriende en familie van mense van 60 jaar en ouer versoek om hulle te help om te registreer.
Mense wat bedlêend of ernstig gestrem is, sal tuis besoek en ingeënt word. Brickles het versoek dat hul name en adresse by die naaste kliniek aangemeld moet word.
SOVEEL BO 60 HET AL GEREGISTREER
Daar woon tans 81 980 mense ouer as 60 in die Tuinroete Distrik. Volgens Brickles was registrasie vir inenting in van die gebiede stadig. Persentasies van geregistreerdes in die onderskeie subdistrikte het teen Dinsdag so gelyk: Knysna: 56%; Mosselbaai: 50 %; Hessequa: 46%; Bitou: 40%; George: 33%; Kannaland: 27% en Oudtshoorn; 52%.
(Deur Liesel le Roux)
