“SHORT term glory veroorsaak soms long term problems.” Met dié woorde het die nuutaangestelde landdros Dmitri Mitchell (31) van Ladismith, leerders van Towerkop Primêr verlede week tydens ’n besoek gemotiveer om van misdaad weg te bly.
Mitchell het nie gehuiwer om die kans aan te gryp om met jong leerders te praat nie. Hy het die verhoog gedeel met ’n groep polisiebeamptes wat misdaad met gospelmusiek bestry.
In sy praatjie het Mitchell leerders aangemoedig om hul drome na te jaag en dat moeilike omstandighede hulle nie moet terughou nie.
“Tough times don’t last, tough people do. Ek weet hier voor my staan advokate, polisiemanne en -vroue, springbokrugbyspelers en mense met enige beroep wat jy verkies. Jy het ’n lopersleutel in jou hand. Maar pasop om verkeerde deure oop te sluit. Later sal jy net ’n tronksel daarmee kan oopsluit. My deur staan oop vir julle om met my of die polisie te kom gesels oor julle uitdagings. Ons is nie hier om gevrees te word nie, maar julle moet daarna streef om nie met die gereg te bots nie. Ons het volle vertroue in julle.”
Sers Bennet de Wee van die Ladismith Polisie het leerders gewaarsku teen dwelms. “As julle weet van misdaad, meld dit aan. Jy is nie dan ’n verraaier nie, jy kies net teen korrupsie.”
Die polisie het verlede week ook ander skole op die dorp besoek, onder meer op Maandag (24 Mei) die leerders van Hoërskool Ladismith.
Lt.kol. Pauline Kriel, stasiebevel- voerder, het leerders angemoedig om die polisie te vertrou en as ’n vriend te beskou, terwyl die prinsipaal van die skool, Sammy Eli, gesê het die gemeenskap en die polisie behoort in vennootskap tot voordeel van die hele gemeenskap van Ladismith te werk.
Ao Jannie Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, sê hulle glo dat dié uitreiking na skole leerders se vooroordele ten opsigte van die polisie kan verander en dalk ook ’n saadjie van die polisie as moontlike beroepsrigting by sommige leerders kan plant. (Deur Deon Meyer)
Polisie, landdros reik uit na skole op Ladismith
Lede van die Ladismith Polisie saam met Sammy Eli, prinsipaal van die Hoërskool Ladismith. Foto: Deon Meyer