Gholfbaanverkragter 13 jaar tronk toe

’N 24-JARIGE man wat twee vroue op die Oudtshoorn Gholfbaan naby die Oudtshoorn Gevangenis voorgelê en onderskeidelik verkrag en beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof effektief tot 13 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Jerome Gelderblom (24) het skuldig gepleit op die klagtes dat hy op 22 Oktober verlede jaar ’n 34-jarige vrou verkrag en ’n 27-jarige van haar sel­foon en kontant beroof het. Die vroue was op pad na die gevangenis om kos vir familielede in die tronk te neem.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof versoek om Gelderblom vir lank tronk toe te stuur omdat hy die misdade beplan het.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisplegging gesê Gelderblom het die betrokke dag geen genade betoon aan die twee klaagsters nie. Hy het ’n mes by hom gehad, alhoewel hy dit nie gebruik het nie.

Die vrou wat hy beroof het, is geweldig getraumatiseer en dink nog gereeld aan die voorval Sy voel sedert daardie dag alewig onveilig.

Die vrou wat verkrag is, is ’n ma van vier kinders en sê in ’n slagofferverslag dat haar senuwees haar opkeil en sy nie rustig kan slaap nie.

Haar eetlus is weg en die verleent­heid is erg. Sy voel baie hartseer oor wat Gelderblom aan haar gedoen het.
Die hof het in ag geneem dat Gel­derblom skuldig gepleit het, maar kon geen wesenlike of dwingende omstan­dighede vind om van die minimum vonnis vir verkragting af te wyk nie.

“Die beskuldigde moet ’n vonnis opgelê word wat verhoed dat hy in die tronk deur familielede van die klaagsters verder gestraf word,” het die landdros gesê.

Hy is nie ’n eerste oortreder nie.

Gelderblom is tien jaar vir verkrag­-ting en vyf jaar, waarvan twee jaar opgeskort is, vir roof opgelê. (Deur Garnett Wicomb)