DIE Kaapse hooggeregshof het die vonnis wat ’n dokter van die Paarl, wat in Mei 2018 aan verkragting en twee klagtes van seksuele aanranding skuldig bevind is, op 10 Mei verminder.
Denzil King, wat in 2016 tydens sy gemeenskapsjaar by die Oudtshoorn Infanterieskool gewerk het, is tot agt jaar vir verkragting en drie jaar vir elk van die seksuele aanrandingsake gevonnis, wat saamlopend uitgedien kan word.
Waarnemende regter Mohamed Salie en regter Ashley Binns-Ward het bevind dat die skuldigbevinding van King deur die Oudtshoorn Streekhof korrek was, maar dat die vonnis te swaar was.
Die hooggeregshof het uitspraak gelewer in ’n appélaansoek van King.
Die hof het dit volgens regter Salie moeilik gevind om King se verweer dat die twee rekrute die klagte ter kwader trou teen hom aanhangig gemaak het, te aanvaar. Die twee vroue was van verskillende peletons en het die voorvalle aangemeld waarna klagtes by die polisie ingedien is
Die hooggeregshof het toegegee dat die vonnis te swaar is, maar bygevoeg dat die samelewing teen dokters se onetiese gedrag beskerm moet word.
King wat tydens sy verhoor deur adv Benito Metembo verteenwoordig is, se vonnis is tot ses jaar verminder, terugwerkend tot 28 Junie 2018, die dag toe hy gevonnis is. (Deur Garnett Wicomb)