Polisie vind gesteelde wapen na huismoles

’N 38-JARIGE man van Opperman­straat in Bridgton, Oudtshoorn, is Saterdagaand (22 Mei) deur die Oudts­hoorn Polisie in hegtenis geneem vir onder meer die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die polisie, is polisielede omstreeks 19:35 die aand na ’n woning in dié straat ontbied waar die man eers in hegtenis geneem is vir aanranding.

Die vuurwapen, wat volgens Visser in 2013 gesteel is, is vervolgens aan die polisie oorhanding omdat dit na bewe­ring gebruik is om dreigemente mee te maak.

“Met verdere ondersoek is vasgestel dat die wapen tydens ’n inbraak in Oudtshoorn gesteel is,” het Visser gesê.
Visser het bygevoeg dat daar, tesame met die 7.65 mm-pistool, op ses koeëls beslag gelê is.

Die man het reeds Maandag, 24 Mei, in die hof verskyn op aanklagte van aanranding en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Teen druktyd was navrae aan die Oudtshoorn Landdroshof oor die man se hofverskyning, onbeantwoord. (Deur Stefan Skapie Goosen)