Vrou sterf aan meswond na argument met buurvrou

’N ARGUMENT tussen twee buur­vroue van Bokkraalweg in Dysselsdorp het Saterdag (22 Mei) in ’n tragedie geëindig toe een van hulle in haar erf voor haar huis se deur gesterf het.

Die stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, kapt Joey Strydom, sê die twee vroue het volgens ooggetuies in die oorledene, Hester Samson (62), se erf begin argumenteer nadat ’n buur­vrou haar daar gaan konfronteer het.

Samson het toe na bewering die huis binnegestap met die buurvrou wat haar gevolg het. Samson het die buurvrou geklap, ’n mes gegryp en na haar buur­vrou gesteek wat in die proses ’n krapmerk op die ken opgedoen het. Die buurvrou het hierna die mes gegryp en Samson in die regterkant van haar nek gesteek.

Die Dysselsdorp Polisie het die buur­vrou in hegtenis geneem en ondersoek die voorval.

Volgens Strydom het alkohol ’n rol in die argument gespeel.

’n Inwoner van die dorp, wat gevra het om anoniem te bly, het aan Die Hoorn gesê dit wil voorkom of die argument tussen die vroue gevolg het nadat hul kinders baklei het. (Deur Liesel le Roux)