DIE Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê hy is baie tevrede met die ouditmenings wat die meeste Wes-Kaapse munisipaliteite van die ouditeur-generaal ontvang het.
Die ouditmenings oor Suid-Afrika se munisipaliteite vir die 2020/2021-boekjaar is vroeër die maand bekend gemaak.
Wes-Kaapse munisipaliteite het 22 skoon ouditmenings (ongekwalifiseerde menings met geen bevindings nie) ontvang en vyf ongekwalifiseerde menings met bevindings.
Met drie Wes-Kaapse munisipaliteite het dit egter nie so goed gegaan nie en hulle het gekwalifiseerde menings ontvang.
Oudtshoorn het ’n ongekwalifiseerde mening, met bevindings ontvang, terwyl Kannaland een van die drie munisipaliteite is met gekwalifiseerde menings. Die ander twee munisipaliteite wat gekwalifiseerde menings ontvang het, is Beaufort-Wes en Laingsburg.
In die res van Suid-Afrika lyk munisipaliteite se ouditmenings nie so rooskleurig soos in die Wes-Kaap nie.
Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het met die vrystelling van die ouditresultate gesê slegs 41 uit die 257 munisipaliteite landwyd het skoon ouditmenings ontvang, waarvan die 22 in die Wes-Kaap is. (Deur Liesel le Roux)
So lyk ouditmenings vir Groter Oudtshoorn en Kannaland

Be the first to comment on "So lyk ouditmenings vir Groter Oudtshoorn en Kannaland"