
HY glo die nuwe leierspan wat sedert verlede Woensdag (29 Junie) beheer oor die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit oorgeneem het, is saam met die nuwe burgemeesterskomitee die beste span wat kan toesien dat die Groter Oudtshoorn so gou moontlik die dienslewering kry wat die inwoners verdien.
So sê die Groter Oudtshoorn se nuwe burgemeester, Chris Macpherson (DA). Macpherson het ook al vantevore dié amp beklee.
Hy sê ook die prosedure verlede Woensdagmiddag by ’n tweede raadsvergadering op Oudtshoorn waartydens nuwe leiers vir die raad verkies is en ’n DA-koalisie die raad oorgeneem het, was wettig en volgens munisipale ordereëls. “Enigiemand wat meen dat daar enige onwettige optrede of besluite by die vergadering was, is welkom om hulle na die hof te wend,” het hy bygevoeg.
Die vorige burgemeester, Chad Louw (ANC), het ná afloop van die betrokke vergadering gesê dit was onwettig en dat die ANC en ANC-koalisie regstappe gaan doen. Hy het ook aangedui dat raadslede wat die vergadering bygewoon het, die regskoste persoonlik sal dra. Hy het nie verder op navrae gereageer nie.
So het die 29 Junie-raadsvergadering verloop
Verlede Woensdag se vergadering het rustig verloop totdat Vlancio Donson (Icosa) ’n vorige mosie van wantroue in die onderburgemeester, Leon Campher (Advieskantoor), weer tot stemming wou bring. Dit was die begin van meningsverskille.
Ná ’n geheen-en-weer tussen Colan Sylvester (OGI) in die speakerstoel en onder andere Donson het die ANC vir ’n koukus gevra, wat Sylvester goedgekeur en bygewoon het.
Met die voortsetting van die vergadering het die ANC-hoofsweep, Mziwoxolo Tyatya, terugvoer van die ANC-koukus aan Sylvester oorhandig wat ’n hofbesluit van ’n ander munisipaliteit voorgehou het as die rede waarom die mosie onwettig sou wees. Volgens Sylvester sou raadslede wat voortgaan met die betrokke mosie, dus onwettig optree, en hy het die vergadering verdaag.
Hierop het raadslede van die ANC-koalisie die raadsaal verlaat.
Volgens Macpherson wou ’n meerderheid raadslede egter voortgaan met die vergadering. Hy sê ’n dokument is opgestel met ’n versoek aan die speaker vir ’n dringende raadsvergadering nog dieselfde middag waarby drie wantrouemosies sou dien – volgens die voorgeskrewe ordereëls wat aandui dat so ’n vergadering moet plaasvind op ’n tyd en plek wat ’n meerderheid raadslede bepaal.
Sylvester het in reaksie hierop aangedui dat hy dit vir die komende Maandag sou belê.
Macpherson sê die ordereëls is daarna steeds gevolg. Omdat die speaker nie wou toestem dat die dringende vergadering nog die middag plaasvind nie, is die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, versoek om raadslede kennis te gee dat ’n dringende raadsvergadering op versoek van ’n meerderheid raadslede gaan plaasvind, met drie mosies van wantroue wat daartydens hanteer sal word; asook die aanstellingsproses van die munisipale bestuurder.
Tydens dié dringende raadsvergadering is Johan Allers (VF Plus) tot die nuwe speaker verkies nadat ’n mosie van wantroue in Sylvester geslaag het, terwyl Mlandeli Nyuka (Saamstaan) tot nuwe onderburgemeester verkies is ná ’n mosie van wantroue in Campher. Macpherson is tot nuwe burgemeester verkies ná ’n wantrouemosie in Louw.
Die verkiesing van Allers, Nyuka en Macpherson is deur die meerderheid van 13 raadslede van die DA, Icosa, VF Plus en Saamstaan gesteun.
Die vergadering het ook besluit dat die huidige aanstellingsproses vir ’n munisipale bestuurder van voor af moet begin omdat die proses “gekompromitteer” is as gevolg van die moontlike inmenging van ’n raadslid of raadslede. (Deur Liesel le Roux)