Roerende begrafnis vir polisievrou wat in koeëlreën sterf

Regs: Die kis van konst Sha­miel­la Arendse op pad na haar laaste rusplek. Foto: Deon Meyer

’N JONG polisievrou wat op Dinsdag, 21 Junie, gesterf het nadat sy vier keer voor haar blyplek in Delft, Kaapstad, geskiet is, konst Shamiella Arendse (26), is Saterdag op Ladismith, waar sy oorspronklik vandaan kom, begrawe.

Arendse het die betrokke dag omstreeks 19:00 buite haar blyplek ge­staan en gesels toe onbekende aanvallers op haar begin skiet het.

Kollegas het Saterdag van heinde en verre gekom om hul laaste respek aan haar te betoon.

Kapt Reynoldt Gelant, stasiebevel­voerder van die Tafelbaaihawe Poli­siekantoor waar konst Arendse werk­saam was, het Arendse in ’n roerende huldeblyk as ’n hardwerkende, pligsgetroue en trotse lid van SAPS be­stempel.

Gelant, wat net soos Arendse van Ladismith afkomstig is, was by tye sigbaar aangedaan.

Haar vorige stasiebeveloerder, lt.kol. Heydenrich, het die gemeenskap van Ladismith bedank vir die goeie opvoeding wat Arendse in dié dorp ontvang het.

Die bevelvoerder van die speurders in die Wes-Kaap, genl.maj. Mashaqalala het die familie bemoedig en sy medelye uitgespreek.

“Ek het empatie met u. Ek het ook ’n seun in die fleur van sy lewe verloor,” het Mashaqalala gesê.

Kapelaan Mzileni, wat die troosboodskap gebring het, het verwys na Jerusalem wat omring is met berge, net soos Ladismith ook deur berge omring is.

“God sal u as familie ook met sy liefde omring tydens u tydperk van rou,” het hy gesê.

Die lied Great is Thy Faithfulness is deur die Polisieorkes gespeel, en dit is gevolg deur die Generale saluut.

Arendse word deur haar ma en twee kinders oorleef. (Deur Deon Meyer)