Ergernis oor boom wat sneuwel

Bo: ’n Ou Jakarandaboom in Baron van Ree­destraat wat Dinsdagoggend onverwags af­ge­saag is. Foto: Stefan Skapie Goosen Onder: Die sypaadjie soos dit nou lyk. Foto: Liesel le Roux

’N GEBREK aan kommunikasie tussen die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en inwoners het vandeesweek tot groot ongelukkigheid gelei nadat ’n dekades-oue Jakarandaboom in Baron van Reede­straat Dinsdagoggend sonder waarskuwing afgesaag is.

Munisipale werkers het klaarblyklik opdrag ontvang om die boom naby die berugte hoek met Van der Rietstraat af te saag.

Die Hoorn kon egter nie vandeesweek daarin slaag om reaksie op navrae aan die munisipaliteit te verkry nie. Aurelia Mle, munisipale woordvoerder, het Dinsdag aangedui dat die navrae wel aan die betrokke afdeling deurgestuur is.

Die boom naby die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat is waarskynlik afgesaag in ’n poging om groter sigbaarheid by dié berugte straathoek te bring. Dié kruising is “berug” vir die gebrek aan sigbaarheid van voertuie daar en die talle botsings wat oor die jare al daar plaasgevind het.

Van die sakelui en inwoners wat 14 maande gelede gesprekke met die munisipaliteit geïnisieer het om oplossings vir dié gevaarlike straathoek te probeer vind, was vandeesweek stomgeslaan oor die skie­like afsaag van die boom.

“Ek voel soos iemand wat ’n goeie vriend aan die dood afgestaan het!” het Hikkie Marais, ’n sakeman wie se besigheidsperseel naby dié krui­sing is, gesê. Volgens hom staan die bome al daar van voordat hy 60 jaar gelede op Oudtshoorn gekom het en as ’n klein seuntjie daar verbygeloop het.

Marais is een van ’n groep besorgde inwoners en sake-eienaars van Baron van Reede­straat wat op eie inisiatief gereeld gesprekke gevoer het met munisipale amptenare oor die beveiliging van die hoek. Hy sê niemand van die besorgde inwoners is ingelig dat die boom gaan waai en hoekom dit gaan gebeur nie.

“Dit is soos ’n hoogs gekwalifiseerde hart­chirurg wat oor ’n jaar heen ’n chirurgiese prosedure beplan, en dan kom ’n slagter verby en doen die verkeerde operasie!”

Marais sê hy was baie ontsteld. “ ’n Hoogsgekwalifiseerde professionele padingenieur is deur die provinsie aangestel om ’n verslag op te stel oor die kruising met voorstelle om die unieke probleem aan te spreek. Die belastingbetaler het opgedok vir die 65 bladsy-verslag!

“Vanoggend, uit die bloute uit sonder enige gesprekvoering of kennisgewing, stuur die parkehoof ’n span om te begin om die bome af te kap. Algeheel teenstrydig met die bevinding van die ingenieur se verslag!”

Volgens Marais het die ingenieurstudie van 65 bladsye wat die Wes-Kaapse regering oor dié straatkruising laat doen het, nêrens aanbeveel dat bome verwyder moet word nie.

Marais het Dinsdagoggend opspraak verwek toe hy sy voertuig in Van der Rietstraat by die stopteken voor die Oudtshoorn Inn getrek het, uitgeklim en geweier het om dit te skuif, ondanks versoeke van verkeersbeamptes. Voertuie moes om sy voertuig ry om deur die kruising te kom. Toe hy weier om sy voertuig te skuif, het hy ’n verkeersboete van R1000 ontvang.

Hy het hierdie optrede van hom as ’n protespoging bestempel om aandag op die situasie te vestig.

Hy sê hy was woedend toe hy sien die takke waai en die boom word afgesny. “Dit is ou bome. Hoe kan dit net afgesaag word?” wou hy weet. “Met al die samesprekings oor die straathoek het niemand ooit gesê daar moet bome afgesny word nie.”

Hazel Jonker, een van die inwoners uit die omgewing wat verskeie van die vergaderings tussen inwoners en munisipale amptenare bygewoon het, sê ook die afsaag van die boom was totaal onverwags.

“Ek dink die groot probleem hier is ’n gebrek aan kommunikasie met inwoners. Dit is net soos met die skewe boom op die Calitzdorp-pad buite die dorp wat sommer net skielik verwyder is sonder enige gesprek met inwoners.”

• Die verslag dui aan dat sigafstande op dié straathoek ’n probleem is, maar omdat die “obstruksies” – gevestigde geboue in die omgewing – nie aangepas kan word om sigafstande te verbeter nie, twee ander opsies oorweeg kan word.

Die opsies is die vermindering van die dubbelbane van Baron van Reedestraat naby die kruising tot slegs een baan (die binnebaan) aan elke kant en die verskuiwing van die stoptekens vorentoe, met die tweede opsie ’n vierrigtingstop.

’n Verkeersirkel word egter nie as wenslik beskou nie.

Die Hoorn het in 2018 berig dat die die Wes-Kaapse Departement van Vervoer – die beherende gesag van dié deurpad (munisipale hoofpad) – nie ten gunste is van verkeersbeheer deur ’n sirkel, verkeersligte of ’n vierrigtingstop op ’n deurpad nie. (Deur Liesel le Roux)