Slange meer sigbaar as verlede jaar

Bo: wee boomslange is op een slag gevang. Onder: n Jong Kaapse kobra is veilig vrygelaat. Foto's verskaf

Slange is beslis meer aktief vanjaar as verlede jaar, sê Mornay Thysse, Oudtshoorn se bekende
slangvanger. Die getalle op Klein Karoo Snakes, Thysse se Facebookblad, bevestig dit.

Gedurende Januarie 2024 is 11 slange gevang, in vergelyking met vanjaar se 17. Thysse was in Februarie met verlof, dus is daardie syfers nie beskikbaar nie, maar in Maart 2024 was slegs vier slange gevang en in die eerste twee weke van Maart vanjaar is reeds vyf gevang.

Die totale slangoproepe vir 2024 was 57. Hy sê dat hy vanjaar meer boomslange gevang het as die vorige jaar en dat die meeste slange by huise in Oudtshoorn gevang is.

Thysse het Maandagaand ’n bielie van ’n Kaapse kobra van 1,7 m by ’n huis in Rooiheuwel, buite Oudtshoorn gevang. “Hy was baie mooi en gesond gewees, en sy vel het sommer geblink,” sê Thysse wat elke slang wat hy vang weer in die natuur vrylaat. Hy verduidelik dat slange veral
nou baie aktief is omdat dit kouer begin raak en hul genoeg voor die winter moet eet.

Wat vir hom ’n groot bekommernis is, is dat geen teengif tans beskikbaar is of vervaardig word nie. Dit sluit teengif vir slange, skerpioene asook spinnekoppe in.

Die skaarste is as gevolg van opknappingswerk by die nasionale gesondheidslaborotorium. Die opknapping is intussen voltooi, maar dit kan tot nege maande neem voordat voorraad weer beskikbaar is.

Inligting dat ’n ingevoerde surrogaatteengif beskikbaar is, kon nog nie bevestig word nie.
Thysse sê indien ’n slang jou pik, is dit belangrik om onmiddellik mediese hulp te soek. “Beweeg so min as moontlik en bly kalm. Moenie die wond sny of suig nie, ys opsit of elektriese skok toepas nie.” sê Thysse.

Volgens Hannes Stegman, algemene bestuurder van Mediclinic Klein Karoo het die hospitaal nog 5
ampules teengif oor, wat eers in 2026 verval.

“Sou ons teengif opraak, kan ons nog by die Oudtshoorn Hospitaal, of selfs teengif vanaf Mediclinic George kry,” sê Stegman.

Glen Carlisle, veearts by die Oudtshoorn Dierekliniek sê dat hy slegs een ampulle teengif oor het,
nadat hy sowat ’n maand gelede ’n hond met ’n pofadderbyt behandel het.

“Die een ampulle sal net genoeg wees om ’n klein hondjie te behandel, dit is baie moeilik want honde wat ons weet kan gered word kan nie eers behandel word nie,” verduidelik hy.

Dieselfde teengif word vir ’n kobra- en pofadderbyt gebruik. ’n Kaapse kobra se gif is neurotoksies
terwyl ’n pofadder se gif sitotoksies is. Polivalente teengif word vir albei se byt gebruik.

’n Boomslang se gif is hemotoksies en daarvoor word monovalente teengif gebruik, wat verskil.

Boomslang-teengif is baie duurder as die teengif vir kobras en pofadders, maar ’n boomslangbyt baie skaars. Vir mense word daar ook meer as een ampule teengif benodig.

Noodnommers:
Beheerkamer 044 203 7800
Oudtshoorn Hospitaal: 044 203 7200.
Mediclinic Klein Karoo: 044 272 0111.
Oudtshoorn Dierekliniek: 044 272 3076 of 083 701 1367 (na-ure).
Kango Dierekliniek: 044 279 1400 of 083 301 6858 (na-ure). (ANGELIQUE ERASMUS)

Mornay Thysse in aksie.