Veiligheidsligte en beter dienste vir Donkerhoek

Twee van die pale met veiligheidsligte by Donkerhoek. Foto verskaf.

Donkerhoek, ’n informele nedersetting in Dysselsdorp, ondergaan tans verskeie verbeterings om veiligheid vir inwoners en dienste te verbeter.

Een van die stappe was die installering van veiligheidsligte om areas wat in die donker gehul was, te
verlig en sodoende misdaad te bekamp. Volgens Aurelia Mle, kommunikasiebeampte van Oudtshoorn munisipalitiet is hierdie verbeterings deel van ’n groter poging om basiese dienste in die gebied uit te brei.

Spreiligte word ook vir nog ’n donker gedeelte beplan. Paaie is ook verbeter om noodvoertuie
vrye toegang tot die woonbuurt te gee.

Om veiligheid en gesondheid verder te verseker word ’n gedeelte by Donkerhoek ook binnekort skoongemaak deur bosse en rommel te verwyder en ’n area te skep waar tuinrommel gestort kan word.

Om in die aanvraag vir water te voldoen en meer waterpunte beskikbaar te maak, is addisionele krane ook aangebring.