Sokkies en stap vir Downsindroomdag

Bo: Eljada-Kairos leerders stap in St Johnstraat. Foto; Angelique Erasmus Onder: Onderwysers het kleurvolle sokkies gedra vir die bewusmaking van Downsindroom. Foto verskaf

Vrydag 21 Maart 2025 is Wêreld Downsindroomdag. Met die dag in gedagte, het vier klasse van Eljada-Kairos Skool se senior kampus Dinsdagoggend ’n optog in Oudtshoorn gereël.

Leerders, vergesel deur hul onderwysers en gelei deur Oudtshoorn se wetstoepassers, het vanaf die skool in Baron van Reedestraat, deur Kerk, Hoog en weer St Johnstraat gestap en terug na die skool.

Die optog het om 09:00 begin. Personeel het ook kleurvolle sokkies gedra, om by vanjaar se tema
“Rock your socks for World Downsindrome Day” te pas.

Dis tradisie om sokkies te dra wat nie ooreenstem nie, ‘n speelse en simboliese manier om gesprekke oor Downsindroom aan te wakker.

Die datum word gekies om die verdriedubbeling van die 21ste chromosoom, wat Downsindroom veroorsaak, te simboliseer. Regoor die wêreld erken mense hierdie dag deur deel te neem aan verskeie bewusmakingsveldtogte, opvoedkundige geleenthede en gemeenkapsaktiwiteite wat begrip en aanvaarding bevorder. (ANGELIQUE ERASMUS)