

“Ons was vyf dae sonder enige water en ons het dit sien kom. Selfs ons hospitaal het nie water gehad nie.” So het een van die inwoners van Ladismith Maandag met ʼn besoek van Die Hoorn aan
dié waterskaars dorp gesê.
Volgens verskeie sakemense en inwoners met wie Maandag gesels is, word daar nou rondgeskarrel om water te voorsien terwyl basiese onderhoudswerk oor jare nie gedoen is nie.
“Die munisipaliteit staan nou voor ’n reuseuitdaging en ek het regtig simpatie met die persoon wat nou aangestel is om die gemors te red. Hy het ’n geweldige taak en van ons groot besighede help
waar ons kan, maar die infrastruktuur is vir te lank totaal verwaarloos,” het een van die sakemanne
gesê.
Die Hoorn is deur ’n besorgde inwoner en sakeman na verskeie boorgate en die dorp se twee damme geneem. Die Goewermentsdam is heeltemal leeg en en die La Grange-dam se vlak is baie
laag.
By dié dam was die toestand van die dorp se swak infrastruktuur duidelik sigbaar. Terwyl water
uit die dam gepomp word, spuit en vloei die water op vyf plekke uit die pyp wat water na die reservoir moet afvoer.
Sommige knippe word deur klippe in plek gehou en by een aansluiting is plastiek en draad gebruik om die lekkasie te probeer verminder. Die water word uit die dam na die dorp se reservoir gepomp vanwaar dit na die dorp versprei word. Die reservoir se vlak was Maandag
steeds baie laag.
Met Die Hoorn se besoek was die munisipale bestuurder, advokaat Dillo Sereo, juis met die tegniese
span in die veld om waterbronne te ondersoek en hy het Dinsdagoggend ’n mediaverklaring gestuur waarin hy die omvang van die probleem verduidelik het.
Die Hoorn het wel met die dorp se uitvoerende burgemeester, Jeffrey Donson, ’n afspraak gekry.
Donson het gesê die probleem met die pompe is dat die vorige bedeling sekuriteitswagte weggeneem het en dat pompe en sonpanele gesteel is. Hy het ook aangevoer dat boere wederegtelik water onttrek. Hy het spesifieke vrae oor die watertekort en moontlike oplossings egter na die munisipale bestuurder verwys.
’n Spesiale raadsvergadering was vir Dinsdag 18 Maart belê om die waterkrisis te bespreek en
raadslede en amptenare het die damme besoek.
Volgens Sereo het die munisipaliteit reeds op 12 Februarie waterbeperkings ingestel. Hulle het die
provinsiale department van plaaslike regering op 24 Februarie in kennis gestel dat watervoorrad baie laag is. Die departement het onmiddelik opgetree en dieselfde dag die adjundirekteur van munisipale infrastruktuur, Msizi Nkuna, na Ladismith gestuur om die situasie te asseseer.
Dit blyk dat die assesering verouderde infrastruktuur en foutiewe waterpompe as die hoofoorsaak van die watertekort uitgelig het en ’n diensverskaffer is op 26 Februarie aangestel om motors en waterpompe te herstel – aldus die verklaring van Sereo.
Sereo sê ook dat die provinsiale departement van plaaslike regering op 28 Februarie ’n geohidroloog, Mark Schapers, aangestel het om die 13 boorgate te ondersoek en volhoubaarheid te bepaal.
Sedertdien, sê Sereo, het Kannaland munisipaliteit om hulp aangeklop by George- en die
Garden Route-munisipaliteite wat water vanaf Zoar met watertrokke voorsien om die vlak van die
reservoir aan te vul.
Teen 13 Maart was agt van die dorp se 13 boorgate funksioneel met ’n lewering van 37 liter water
per sekonde. Aangesien waterdruk te laag is om waterpunte in hoërliggende gedeeltes te diens,
word water deur die munisiplaiteit na hierdie verbruikers aangery.
Ladismith se twee grootste ondernemings en die dorp se grootste werkverskaffers is die twee kaasfabrieke, Ladismith Cheese en Lactalis. Volgens Sereo is daar noue samewerking tussen die twee
fabrieke en die munisipaliteit om te verseker dat ontwrigting van produksie tot die minimum beperk
word.
Die Hoorn het intussen verneem dat die waterkrisis in Ladismith die Kannalandmunisipaliteit
noop om dit as ’n plaaslike rampgebied te laat verklaar en Garden Route distriksmunisipaliteit
te nader om die afkondiging van Kannaland as plaaslike rampgebied te ondersteun.
Teen spertyd kon nie bevestig word of hierdie versoek reeds gerig was nie.