Skryf ’n brief uit 2030 aan jouself … en wen groot pryse

DEEL jou visie en droom oor hoe ’n kunstefees en spesifiek die KKNK in die toekoms gaan lyk en staan ’n kans om groot pryse te wen.

Future Festivals South Africa: Possibilities for the Age of Covid-19 is ’n internasionale navorsingsprojek wat deur King’s College in Londen en die Rhodes Universiteit ontwikkel is. Met dié studie wil die impak van Covid-19 op kunstefeeste ondersoek word en ’n nuwe kennisbasis en samewerkingsnetwerk opgebou word om feeste daartoe in staat te stel om vorentoe te oorleef en te floreer.

“Die KKNK is bevoorreg om deel te wees van dié navorsingsprojek en ons moedig alle betrokkenes en ondersteuners aan om deel te neem: van feesgangers tot borge, kunstenaars én Oudtshoorniete,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, oor die projek.

“Ons wil graag jou toekomsdroom vir die KKNK hoor: Verbeel jouself jy is by die KKNK in 2030. Skryf nou ’n brief uit die toekoms aan jouself in 2021 en verduidelik wat jou ervaring van die 2030-fees is!”

Deelnemers se briewe sal ’n belangrike deel uitmaak van die navorsingsprojek. Elke brief, gedig of idee kan so kort, of lank wees as wat die skrywer dit wil maak. Klankopnames of video’s kan ook gemaak word, waar deelnemers met hulself vanaf die KKNK in 2030 praat. ’n Skets kan ook gemaak word.

Bydraes in Afrikaans én Engels word aanvaar.

Daar is riglynvrae vir deelnemers om te help om die brief te skryf of die opname te maak of ’n beeld/skets te skep. Vir die riglyne en inligting besoek www.future-festivals.org/KKNK-Letters-from-the-Future.html.

Deelnemers staan ’n kans om verskeie pryse te wen, waarvan die totale waarde R60000 is. Wenners word ná afloop van ’n gelukkige trekking op 17 September 2021 bekend gemaak. Die pryse is:

● ’n Naweek vir twee op Oudtshoorn om Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo Kersfees by te woon, met verblyf by Buffelsdrift Game Lodge. Ingesluit is ontbyt en aandete, ’n safari, olifant-ervaring, ’n spa-sessie, ’n Kango Volstruis-plaastoer, ’n rit in ’n lugballon, ’n Klein Karoo-geskenkpak, ’n Ons Karoo-boek, retoervlugte na George en ’n huurmotor;

● ’n Naweek vir twee na Oudtshoorn om Dowwe Dolla se Nou of nooit! by te woon, met verblyf by Berluda Farmhouse & Cottages. Ingesluit is ontbyt en aandete, ’n meerkattoer, ’n Karusa-wynproe-ervaring, ’n besoek aan die Cango Wildlife Ranch, ’n Klein Ka­­roo-geskenkpak, retoervlugte na George en ’n huurmotor;

● ’n Naweek vir twee na Oudtshoorn om Dowwe Dolla se Nou of nooit! (haar laaste toer) by te woon, met verblyf in die Queen’s Hotel. Ingesluit is ontbyt en aandete, ’n besoek aan die Kango Grotte, ’n Klein Karoo-geskenkpak, retoervlugte na George en ’n huurmotor; en

● Vyf geskenkpakke met die volgende in: ’n Klein Karoo-geskenkpak, ReWOLusie-produkte, die digbundel Maskers en Mure, vier kaartjies na die KKNK se aanlynteaterproduksies.