Briewe van lesers

Is daar geen insig van owerheid en van ouers nie?

Ek is besonder dankbaar dat ek nie die enigste stem roepende in die woestyn is nie. Baie dankie aan Albert Schoeman, en hopelik ook ander mense wat stilswyend bekommerd is oor die steeds verslegtende toestand van ons planeet as gevolg van die onbeheersde bevolkingsontploffing.

Sedert my vorige skrywe was daar ook die openbaarmaking van die ontstellende getalle skoolmeisies, selfs so jonk as 10 en 12 jaar, wat swanger raak. Dit bevestig my bekommernis oor die neiging dat vroue/skoolmeisies doelbewus swanger raak ter wille van die staatstoelaag.

Is daar dan geen insig aan die kant van die ower­­heid en selfs ouers nie? Hierdie toedrag van sake is mos hoegenaamd nie volhoubaar nie.

Dis maar weer eens die belastingbetaler wat vir die gelag moet betaal en die oumas en oupas wat die kindjie moet probeer grootmaak terwyl die “pa en ma” kommerloos aangaan met hul lewens en dikwels herhaaldelik so ’n “grappie” maak.

Dis ’n skande, maar word deesdae deur die gemeenskap as normaal beskou.

Waarheen is ons op pad?
– Pieter, Oudtshoorn

Partye móét sê waarom bestuurder nie meer geskik is

Die gemeenskap (belastingbetalers) het seker die reg om te weet waarom drie partye op Oudts­hoorn – Sarco, Icosa en die ANC – nie meer die huidige korporatiewe direkteur wat waarneem as munisipale bestuurder, geskik vind vir die posisie nie.

Is dit dalk omdat hy voor die verkiesing nie bereid is om gunsies te doen nie of is hy nou ná so baie waarnemings onbevoegd gevind?

Wat dit nog meer lagwekkend maak, is die feit dat hulle iemand aan­stel wat in ’n stadium hier deur die DA aangestel is en later weg is.

Hy is toe deur die DA op George aangestel en ook daar weg.

Tyd sal ons leer oor waarom hierdie drie partye hom wil hê.

Hierdie aanstelling van iemand van buite is ’n ekstra uitgawe vir die belastingbetaler en dui op onbevoegdheid en wantroue in die huidige direkteure.

Dit bevestig ook net weer dat daar geen respek vir hardwerkende amptenare en personeel is nie.

Ek kan my nie indink hoe moeilik dit vir die amptenare moet wees om elke keer ’n ander munisipale bestuurder te hê nie.

En elke keer klaarblyklik om ’n politieke agenda van hulle wat hom aangestel het, te bevorder.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit hou die rekord vir die meeste munisipale bestuurders.

Miskien moet die raad in hul volgende vergadering besluit om dit in die rekordboeke te laat aanteken
– Positiewe Klong, Oudtshoorn