’N NUWE dierewelsynorganisasie is in Augustus op Oudtshoorn gestig toe die behoefte geïdentifiseer is vir dierewelsynsorganisasies op die dorp om saam te werk met een doel: die versorging van Oudtshoorn se weerlose diere.
Na aanleiding van onmin wat op sosiale media gesaai is en berigte in plaaslike koerante oor die munisipale diereskut en die invloed van sekere dierewelsynsorganisasies het probleme ontstaan. Volgens Philip Goets, woordvoerder van die nuutgestigte nie-winsgewende organisasie Oudtshoorn Diereherberg, is ’n vergadering toe met die Oudtshoorn Munisipaliteit belê waartydens kwelpunte van die onderskeie diereorganisasies op die dorp bespreek is. Van die kwelpunte is die munisipaliteit se mandaat ten opsigte van diere wat geskut word en munisipale bywette.
“Die munisipaliteit mag volgens wetgewing ’n dier wat geskut word vir slegs sewe dae aanhou. Daarna moet ’n ander heenkome gevind word of moet die dier van kant gemaak word,” het Goets gesê.
Oudtshoorn Diereherberg is toe gestig om ’n skakelrol tussen die munisipaliteit en ’n nuwe tuiste vir hierdie diere te skep.
Goets sê die organisasie is absoluut “pro life”, wat beteken dat daar so ver moontlik gepoog sal word om diere te huisves pleks van hulle van kant te maak. “Wanneer besluit word om ’n dier uit te sit, sal dit op aanbeveling van ’n veearts gedoen word,” voeg hy by.
Volgens Goets verkies die munisipaliteit om met een organisasie saam te werk om dit vir hulle makliker te maak. “Al die bestaande dierewelsynsorganisasies is genader en die geleentheid gegee om as een organisasie saam te werk, maar twee organisasies het verkies om hul status quo te handhaaf,” sê hy.
Voorts het die munisipaliteit goedgunstiglik ’n stuk grond bewillig wat grens aan die bestaande skut waar daar beoog word om diere in ’n eersteklasfasiliteit te herberg “totdat ’n permanente huishouding vir hulle gevind word,” sê Goets en voeg by dat die Oudtshoorn Diereherberg voortaan nou met die munisipaliteit sal saamwerk ten opsigte van dierewelsyn, sterilisasieprogramme en bewusmakingsveldtogte.
“Oudtshoorn Diereherberg wil graag die publiek van Oudtshoorn en al die gereelde donateurs verseker dat alle skenkings, hetsy geldelik of in die vorm van kos, slégs op Oudtshoorn aangewend sal word. U as donateur sal presies weet waar u bydrae aangewend word. Ons nooi die publiek en donateurs om betrokke te raak by die nuwe organisasie ten bate van die versorging van ons dorp se weerlose diere,” sê hy.
Hou die Oudtshoorn Diereherberg se Facebook-blad dop om meer uit te vind oor wat hulle doen.
• Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, het bevestig dat die Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer, gevra is om ondersoek in te stel na die interaksie in die verlede tussen dierewelsynsorganisasies en die munisipale skut. Volgens Macpherson het die staatsveearts op Oudtshoorn terugrapporteer aan Meyer, en word daar tans op terugvoer gewag.
Macpherson het ook bevestig die munisipaliteit het diereorganisasies op Oudtshoorn gevra om saam te smelt om samewerking met die munisipaliteit te bevorder.
“Dit is duidelik gestel dat ons kragtens wetge-wing sal optree. Daarom sal met ’n tenderproses begin word. Alle dierewelsynorganisasies sal die geleentheid kry om te tender vir die bestuur van die skut, maar indien hulle besluit om hande te vat onder een organisasie sal dit beslis in hul guns tel,” sê hy.
Volgens Macpherson is ’n stuk grond oos van die skut reeds bewillig vir dierehuisvesting (kennels). ’n DBV-verteenwoordiger het vroeër uitgewys dat ’n nuwe plek vir die skut en moontlike kennels, wat nie so teenaan aan die rioolaanleg is nie, geïdentifiseer moet word. Daar is verder ooreengekom dat sodra ’n nuwe organisasie die bestuur van die munisipale skut oorneem, sal welsynorganisasies, wat diere na die skut gebring het, die diere na hul eie kennels sal moet verskuif.
“Die organisasie wat deur die tenderproses verkies word sal dan verantwoordelik wees vir die skut se bestuur en alle daarmee gepaardgaande nakomingskwessies,” sê hy.
Volgens Macpherson is die munisipaliteit se benadering: “A rand earned or donated in Oudts-hoorn must be spent in Oudtshoorn”, en is dit van toepassing op alle organisasies. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Sambreelorganisasie vir dierewelsyn gestig om Oudtshoorn-diere te versorg
Foto ter illustrasie.