Skenking aan Eljada Nasorgsentrum

Die Onluste-eenheid 14, Volmoed, het ’n skenking aan Eljada Nasorgsentrum ge-maak nadat daar fondse oorgebly het van hul reünie. Op die foto van links is Riana (Vlam) Stander, Altania Swart (sekretaresse Eljada Nasorgsentrum) en Johanna (Joey) Lodewyk. Foto: Lindi Brill

Die manne en dames van die Onluste-eenheid 14, Volmoed, het hul 38ste reünie op 14-16 Junie by die Rolbalklub in Oudtshoorn gehou.

Dit was ’n suksesvolle naweek gewees met 138 lede wat die funksie bygewoon het, en die groep was ook geëerd dat hul eerste bevelvoerder, Brig George Marx, wat die eenheid in 1986 gestig het in die skoolgebou in Volmoed, die verrigtinge bygewoon het. Marx het ook ’n kers aangesteek vir die 41 lede wat reeds oorlede is.

In 1996 het die eenheid na ’n perseel in Tabak-straat in Oudtshoorn verskuif, waarna die eenheid verplaas is na George.

In die eenheid se tyd in Volmoed het hulle nou saamgewerk met die kinders van Eljada skool, waar hulle vir die kinders kersgeskenke uitgedeel het en selfs elke kind op hul verjaarsdag bederf het met ’n geskenkie en ’n verjaarsdagkoek.

Dit is dan ook waarom die eenheid besluit het om al die fondse wat oorgebly het van die naweek se reünie, aan die Eljada Nasorgsentrum te skenk, omdat dit die kinders is wat nou as volwassenes in die sentrum woon.

“Omdat ons altyd vir hierdie mense gesorg het toe hulle nog kinders was, wil ons graag op hierdie manier weer bydra tot die fonds vir Eljada se nuwe heining wat hulle graag wil oprig vir die veiligheid van die inwoners”, het Riana Stander, wat ook bekend is as Vlam, aan Die Hoorn gesê. (Deur Lindi Brill)