A+++ vir Janien

Janien Muller

Die meesterbrein agter Die Hoorn se twee kat karnallies, Kieter en Kat strokiesprent, Janien Müller (17), se vier inskrywings het al vier ’n gradering van A+++ ontvang.

Janien het aan die ConSpirito Kuns-vereniging se 2024 kompetisie deelgeneem, en is as die item wenner in al vier die kategorieë waarvoor sy ingeskryf het aangewys.

Die kategorieë is, Digitale Kuns waarvoor sy 98% behaal het, Gemengde Medium, ook 98%, vir die Gryspotlood- kataorie behaal sy 97% en Olie Pastelle ook 97%.

Al vier haar kunswerke dring deur na die ConSpirito Forte rondte later vanjaar. ConSpirito is ’n eisteddfod wat in die Oos-Rand, Gauteng in 2003 gestig is.

Die platvorm bied vir alle kinders ’n kans om hul talente te bevorder op alle vaardigheidsvlakke.
Janien, ’n leerder by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, is ook verantwoordelik vir die lekker avonture van Jack en Lisa, en sy deel dit graag met haar mede-leerders.

Sy het ook al talle illustrasies vir kinderboeke gedoen.

Haar kreatiwiteit en talent het geen einde nie. Hou die jong kunstenaar gerus dop.

Janien se inskrywings. Foto verskaf