Skapie en Die Hoorn

My joernalistieke loopbaan het my al na baie plekke geneem – beide fisies en emosioneel. Oor die afgelope 11 jaar het ek al van die donkerste tot die pragtigste, helderste aspekte van die lewe ervaar – nie net in die sin van my fisiese omgewing nie, maar in mense ook.

Ek sal dit vir niks verruil nie. En dit is alles te danke aan Die Hoorn. Dit is immers waar ek my spreekwoordelike joernalistieke tande geslyp het, waar ek my vuurdoop ontvang het, en waar ek alles rondom die bedryf geleer het.

Met die kennis wat ek by hierdie unieke, onafhanklike dorpskoerant opgedoen het, het ek op ’n stadium in my loopbaan tot op nasionale nuusvlak verslag gegee.

My verhaal in die koerantbedryf het in 2015 begin. Schalk en Liesel le Roux, het ’n onervare, “takhaar” wat pas – sonder veel nadenke – uit Kwa-Zulu-Natal na die volstruishoofstad verhuis het, ’n kans gegee om sy droom uit te leef.

Ek onthou my eerste, behoorlike “nuus-uitstappie” soos gister. Schalk het een aand by my aangekom na een van Meiringspoort se jaarlikse vloede. Hy het ’n kamera in my hand gestop met die instruksie dat ek vroeg die oggend moet deurry om te gaan kyk wat ek kan afneem, en die span ingelig te hou oor wat aangaan.

Ek kon nie stilsit nie, en het lank voor sonopkoms in my kar gespring en gery. Die res, soos mens sê, is geskiedenis.

Die Hoorn, veral Schalk en Liesel, het vir my kennis van onskatbare waarde aangeleer. Kennis van ander, en kennis van myself.

Ek het gesien hoe elke persoon wat ek teëgekom het ’n storie het om te vertel. Maak nie saak waar hulle vandaankom of wie hulle is nie. Ek het ook geleer dat ’n storie nie altyd is soos wat dit eers voorkom nie.

Die mees vervelige storie, met nadere ondersoek, kan in die mees fantastiese verhaal verander. Oudtshoorn was die perfekte plek vir hierdie wyshede om my beet te kry.

Ek was ook gelukkig om by Die Hoorn te wees toe die huidige eienaars, Jaco en Angelique Erasmus, by die Le Roux’s oorgeneem het.

Hul passie om Die Hoorn nie net aan die gang te hou nie, maar om dit op te bou, was aansteeklik. Hulle het my soos familie behandel en vir my ’n plek gegee waar ek verder deel van Oudtshoorniete se lewens kon wees.’n Werklike voorreg, dankie!

Vir meer as vyf jaar was dit deel van my lewe, en het die koerant vir my ’n plek gegee om te groei en my droom van mense se stories vertel uit te leef.

Die vroeg oggende, laat nagte, oomblikke van uiterste geluk en verskriklike hartseer sal altyd by my bly.

Die Hoorn is deel van my lewe, my geskiedenis, net soos wat dit vir die afgelope 25 jaar deel was van Oudshoorniete se lewens en geskiedenis.

Ek hoop en bid dat dit vir die volgende 25 jaar, nee, 125 jaar, deel sal wees van die dorp se doen en late. Geluk my oud-kollegas!

Geluk aan Die Hoorn! Mag julle van krag tot krag gaan! (STEFAN SKAPIE GOOSEN)