Die Hoorn-personeel onthou…

CYRIL CLARKE
Ek is al vir verskeie jare die bevoorregte mens wat Die Hoorn eerste lees, voordat enige van ons baie ander lesers dit te lese kry. Elke Woensdag is daar heelwat interessanthede wat die res van die week vir my die moeite werd maak. Ja, Die Hoorn moet al Woensdag persklaar wees om elke Vrydag-oggend oral in ons omtes beskikbaar te wees. En ek het heelwat pret gehad.

Daar was byvoorbeeld die Woensdag toe ek in die kantoor kom vir die proefleeswerk en op my lessenaar ’n goudgeelpers “seero-werweergawe” van verskeie bladsye met taalgebruik wat nooit voorheen in Die Hoorn gebruik is nie, begin lees. As ek mooi dink is ek redelik seker dat daar op verskeie van die gedrukte bladsye ’n “taalknerts” of twee was wat nie gewoonweg in Die Hoorn verskyn het nie.

En natuurlik het almal in die kantoor doodstil gesit en my (sprakelose) reaksie met groot vreugde uitdrukking-loos aanskou tot ek nie meer kon nie en baie spraaksaam my misnoë openbaar het. Daar was die Woensdag toe ek met ʼn skaapwagterskyf romering-versierde “wortelkoek” bedien is en agterna eers gehoor het dit was ’n spekboomkoek. Dit was ’n heeeeerlike stuk koek, hoor.

Ek word baie dikwels gevra of ek dit geniet om ander mense se taal- en spelfoute reg te maak en dan sê ek altyd my leuse is: Moenie die waarde van ’n goeie poefleser onderskat nie. Lees net gou weer die laaste sin, dan sal jy verstaan hoekom ek dit so geniet.

RAMONA VAN RENSBURG
EK was bevoorreg om deel te wees van die Die Hoorn-span vanaf 2013 tot einde 2014.
Alhoewel ek aangestel was as bemarker, het Liesel en Schalk my passie vir ontwerp en skryf raakgesien en aangemoedig.

Die gevoel as een van my promosie-artikels verskyn het of as ‘n advertensie geplaas was wat ek help ontwerp het, was pure adrenalien en opgewondenheid.

Ek het baie gegroei as mens; van grafiese ontwerp seminare in die Kaap tot funksies reël met gas-kunstenaar en al, was vir my alles eerste ervaringe. Ek glo dat elke persoon wat in so kunssinnige omgewing werk, die geleentheid het om hulle self uit te leef in hulle beroep.

Ek kan met alle opregtheid sê dat my tyd by Die Hoorn my gehelp vorm het tot die mens wie ek vandag is.

Angelique en span, dankie dat julle Die Hoorn se vaandel so hoog hou en suksesvol voortbou op standvastige fondamente. Alle voorspoed met die volgende 25 jaar!

MARITHA MEYER
Toe ek joernalistiek studeer het, het ons dosent Die Hoorn as voorbeeld gebruik van ’n uitstekende onafhanklike plaaslike koerant wat in alle opsigte ’n ware waghond vir die gemeenskap was.

Min het ek geweet dat ek 20 jaar later die geleentheid sou kry om deel te raak van Die Hoorn se span.
Dit was voorwaar ’n voorreg om weer in ’n nuuskantoor te kon werk saam met be-kwame mense soos Liesel en Schalk.

Liesel se foon het die meeste van die tyd onophoudelik gelui.

Haar netwerk van kontakte was verstommend en dit was van dag een af vir my duidelik dat die mense haar met hul lewens vertrou het.

Geluk met die 25-jaar mylpaal, mag daar nog vele meer nuusjare wees! Ons is saam met julle trots.

LINDI BRILL
Ek kan met trots sê dat ek vir twee van daardie jare die absolute voorreg gehad het om my lewe met Die Hoorn en die mense daar te kon deel.

Dit is twee jaar waarna ek met baie liefde en verlange terugkyk.

Nie net het dit gevoel of ek elke dag saam met familie gewerk het nie, maar dit was ook ’n eer om my naam aan Die Hoorn te kon koppel.

Ek wens hier van die verre Noorde net voorspoed vir jul volgende 25 jaar, waar Die Hoorn soos ’n baken uitstaan in die alledaagse gebeure, lief, leed en stories van Oudtshoorn.

MAUREEN PIENAAR
By Die Hoorn is spanwerk definitief die hoofbestanddeel van hulle wenresep.

Van die uitdeel van elke koerant, plaas van advertensies, onderhoude met plaaslikes, erkenning van prestasie tot die teruggee aan die gemeenskap.

Alles perfek afgemeet! Geluk met julle 25ste bestaansjaar, mag seën julle pad teer vir die volgende 25 jaar!