25 jaar na daardie vrolike dag in 2001!

Schalk, Liesel en Mia le Roux tydens Mia se kroning as Mej. Suid-Afrika 2024.

Dit is vandeesweek ’n kwarteeu sedert die eerste uitgawe van Die Hoorn op 25 Januarie 2001 in die Klein Karoo verskyn het. Ek onthou daardie dag soos gister – ’n plaaslike viermanorkes wat buite Die Hoorn se kantoor in die middedorp ’n vrolike atmosfeer skep, terwyl ek en Schalk in Hoogstraat die nuwe koerant aan inwoners uitdeel.

Ek en Schalk en ons twee jong kinders het begin Januarie 2001 van Pretoria na Oudtshoorn verhuis om ’n gemeenskapskoerant, Die Hoorn, op die dorp te begin. En al was ons nuut en vreemd op die dorp is ons van die begin af met opregte vriendelikheid en warmte deur die meeste Oudtshoorniete ontvang – van ons nuwe bure tot die burgemeester! Schalk vertel oor daardie eerste weke: “Van my beste herinnering van die koerant se begindae is hoe ek deur die burgemeester van daardie tyd, James Swigelaar, op die dorp verwelkom is.

“Hy het kort nadat ons ons kantoor geopen het ’n draai daar kom maak om ons welkom te heet en voorspoed toe te wens. Tydens die verwelkoming het ek iets nuut verneem oor Die Hoorn, ’n naam wat ek vir die nuwe koerant gekies het omdat dit deel uitmaak van die woord Oudtshoorn en omdat rams- en ander horings in die ou dae as kommunikasie-instrumente gebruik is om boodskappe en inligting uit te dra.

Dit is tog wat ’n koerant doen, inligting uitdra. Ek het toe die eerste keer verneem dat Oudtshoorn wyd onder bruinmense, veral onder oud-studente van die destydse bruin onderwyskollege in Bridgton, as “Die Hoorn” bekend gestaan het.”

Talle ander inwoners het in die eerste weke ook kom kennis maak by ons kantoor, soos oom Johan du Plessis van Vergelegen en Sandra Afrika, destyds van Dysselsdorp.

Drie staatmakers wat ons oor die jare ondersteun het met onder meer betroubare nuus, is Louis Visser, voormalige woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, Mornay Thysse, bekende reddingswerker en slangvanger, en ’n bloedjong Ntobeko Mangqwenqe, tans woordvoerder van die George Munisipaliteit en voormalige woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, wat aangebied het om vryskut-nuusdekking vir Bongolethu te doen.

Die 21 jaar wat daarop gevolg het voordat ons Die Hoorn in Desember 2022 aan Jaco en Angelique Erasmus oorgegee het, was ’n ervaring, maar ook uitdagend, uitmergelend, soms uitputtend, en dikwels opwindend met spesiale hoogtepunte.

Ons het die voorreg gehad om oor die jare werk te kon skep vir verskeie joernaliste, bemarkers, grafiese kunstenaars, administratiewe personeel, koerantverspreiders en -verkopers, en is ondersteun deur wonderlike rubriekskrywers en talle vryskutfotograwe en -joernaliste.

Ons span se harde werk het vrugte afgewerp en Die Hoorn het oor die jare talle pryse by die Sanlam Toekennings vir die Gemeenskapspers ontvang vir onder meer beste redaksionele kommentaar, gehalte joernalistiek, beste voorblaaie en goeie foto’s.

Selfs een van ons advertensies is een jaar as “Advertensie van die Jaar” aangewys.

Dit was voorwaar ’n voorreg om weekliks van Januarie 2001 tot Desember 2022 met Oudtshoorn en ons buurdorpe se inwoners te kommunikeer.

En ten slotte: Baie geluk, Die Hoorn, met 25 jaar in die Klein Karoo! (LIESEL LE ROUX)