Van hotelbestuur tot redakteur
MY paadjie met Schalk en Liesel Le Roux begin vroeg in 2018, toe ek by ’n plaaslike hotel gewerk het. Dit is daar waar ek vir Schalk leer ken het, wanneer advertensies by Die Hoorn geplaas moes word.
Nadat my kontrak by die hotel ten einde geloop het, kontak Schalk my en vra of ek belangstel in ’n bemarkerspos by die koerant. My “onderhoud” vind sommer die volgende dag in De Rust plaas, tydens die Smulpaaptoekennings wat Die Hoorn aangebied het.
Ek begin die volgende dag en soek advertensies wyd en suid. Intussen skryf ek so af en toe vir Die Hoorn, en slaan ’n pos as joernalis los. Onder die waaksame oog van Schalk en Liesel se wonderlike leiding leer hulle my die aspekte van joernalistiek. Ek was mal oor stories, om mense te ontmoet, navorsing te doen en om in die hof te sit en stories te volg… en soms soek.
Hier het ek hartseer tye saam met geliefdes beleef wanneer die dood oor hulle paaie geloop het; opwinding ervaar wanneer daar mylpale bereik word; spekboswortelkoek en pampoenkonfyt geproe; en so baie mense ontmoet wat vandag nog die pad saam met my stap.
In 2022 kry ek en my man, Jaco, die voorreg om die koerant by die Le Roux’s te koop en steeds die gemeenskap te dien. Saam met die koerant neem ons drie personeellede oor: Tieneke Maritz, Heinrich Bosman en Stefan Skapie Goosen.
In 2024 neem ons die besluit om die koerant gratis uit te gee – en so te verseker dat elke koerant onder ons lesers se oë beland. Sonder ons adverteerders, wat ons week op week ondersteun, sou hierdie stap nie moontlik gewees het nie.
Ons is dankbaar en waardeer elkeen wat adverteer, lees, ons sosiale mediabladsye ondersteun, ons stories deel, vir ons stories stuur en wat oor die afgelope 25 jaar deel van Die Hoorn-familie is! Sonder julle sou ons dit nie kon doen nie.
Ons sien uit na nog vele jare saam met julle! Hou Die Hoorn dop – vir ons 25ste verjaarsdag het ons besluit om die koerant te vernuwe, nie net met ’n nuwe uitleg nie, maar ook met nuwe kleure. Blou simboliseer vertroue en lojaliteit, en dit is wat Die Hoorn vir die gemeenskap van die Klein Karoo bied! Nuus wat jy kan vertrou, geskryf met omgee harte, want julle is die hartklop van ons koerant.
Ek wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om vir my man, Jaco Erasmus, dankie te sê vir sy bystand, ondersteuning en wonderlike idees wat my soms uit my gemaksone druk, maar sonder hom sou die koerant en groei nie moontlik gewees het nie.
Aan my personeel, Tieneke, Elizabeth, Malissa en Granwille, daar is nie genoeg woorde om dankie te sê vir julle ondersteuning, hulp en deursettingsvermoë nie. Julle maak die koerant week na week moontlik. Saam met julle sal ek oorlog toe gaan. Aan al die vorige werknemers van Die Hoorn, dankie vir elke bydrae wat julle aan Die Hoorn gemaak het. Julle is deel van ons storie, en julle afdrukke leef voort in elke week se uitgawe.
Ons onthou ook vir Tannie Joey de Kock, wat op 9 Januarie 2021 aan kanker oorlede is. Joey was ’n bemarker van formaat wat 40 jaar in die koerantbedryf gewerk het – eers in Pietersburg waar sy in 2001 as mediaverteenwoordiger van die jaar deur die noordelike koerante aangewys is, en nadat sy en Fanie in 2005 na Oudtshoorn getrek het, by Die Hoorn.
Laastens, aan Schalk en Liesel, dankie vir julle aanhou, uithou en deurdruk. Dankie dat julle al die jare Die Hoorn gevorm het as die betroubare onafhanklike koerant wat hy vandag is. Vir elke persoon wat julle by Die Hoorn in diens geneem het en gementor het. Ons waardeer julle. (ANGELIQUE ERASMUS)
