Granaat produkte van hier by wêreld se grootste kos-en-drank handelsekspo

Die Wes-Kaapse minister van landbou, Ivan Meyer, het vroeër die week by Karoo Wonderful Pomegranates se stalletjie ingeloer en van die produkte geproe. By hom is Gerhard Meyer, uitvoerende hoof van Karoo Pak en eienaar van Celebratio (bo). Links staan Marita en Gerhard Meyer in hul oulike granaatmotief baadjies. Foto verskaf

Karoo Wonderful Pomegranates het die voorreg om hierdie week aan Gulfood in Dubai deel te neem. Gulfood is die wêreld se grootste kos-en-drank handelsekspo met meer as 6500 uitstallers van 130 lande wat hul ware hier uitstal. Karoo Wonderful Pomegranates, ’n eksklusiewe handelsmerk vir die Klein-Karoo se Wonderful-granate, behoort aan Karoo Pak.

Karoo Pak se pakstoor en prosesseringsaanleg is geleë op Celebratio buite Oudtshoorn. Celebratio is Karoo Pak se grootste granaatprodusent. Van die produkte wat hier vervaardig word sluit in 100% suiwer granaatsap, ’n granaat “reduction”, ’n granaat “ys-lollie” en ’n granaat-likeur.