’N MAN wat volgens sy ma al 27 jaar ’n skisofrenielyer is, het Maandagoggend sy ma se woning in 11de Laan, Bridgton aan die brand gesteek. Alles wat binne die huis was, het uitgebrand.
Volgens Christina Melight (66) het haar 46-jarige seun die huis omstreeks halfses die oggend aan die brand gesteek. Hy was alleen in die huis omdat hulle volgens haar nie met hom kan huishou nie.
Sy en haar dogters en kleinkinders slaap al geruime tyd by familie. Toe hulle die tyding kry dat die huis brand, het hulle inderhaas gaan kyk wat hulle kon red.
“Ons kon niks red nie en teen die tyd dat die brandweer opgedaag het, was al die huis se inhoud uitgebrand asook die plafon en dak van die sitkamer.”
Volgens Melight het sy al verskeie vergeefse pogings aangewend om hulp vir haar seun te kry.
“Ek was al by maatskaplike dienste en by die hof, maar kon nog nêrens gehelp word nie.”
Sy sê dit is nie die eerste keer dat haar seun van haar besittings aan die brand steek nie. Hy het ook al sy eie klere uitgebrand.
Hy is tans in aanhouding.
Mense wat die familie met bydraes wil help, kan Mortean Meyer by 079 966 5322 of haar dogter Mortlin by 071 804 1992 skakel.
Deur Garnett Wicomb