Beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapen in huis

DRIE vroue en ’n man het Dinsdagoggend in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn nadat ’n ongelisensieerde vuurwapen Sondagaand in ’n huis in Rosebank, Oudtshoorn gevind is.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie gereageer op inligting van die publiek en die huis deursoek waarna beslag gelê is op ’n .38-rewolwer en rondtes.
Die vier verdagtes is daarop in hegtenis geneem.
Visser sê die vuurwapen is nie as gesteel aangemeld nie en ondersoek word tans gedoen om vas te stel aan wie die vuurwapen behoort en hoe dit in die besit van mense gekom het wat nie oor ’n lisensie daarvoor besit nie.
Brig Levona Januari, die Oudtshoorn Stasiebevelvoerder, het die publiek bedank vir hul inligting en die beamptes wat vining reageer het op inligting.
“Vuurwapens in die verkeerde hande is gevaarlik en word gebruik om misdaad te pleeg. Ons is dankbaar hierdie wapen is nie meer ’n gevaar vir enige mens nie.”