MEALS on Wheels Oudtshoorn het Maandag die seuns van die kinderhuis Huis Triomf met ’n heerlike Kersete, nagereg en soetgoed bederf.
Die voorsitter van die organisasie, Henrico Kumutu, sê nadat hulle gehoor het dat die tehuis swaar trek en dalk sy deure sal moet sluit, hulle besluit het om die seuns op ’n Kers-ete te trakteer en in 2020 meer betrokke te wees by die kinderhuis.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die vrywilligers van Meals on Wheels vir hul onbaatsugtige diens sonder vergoeding. Crystal Muller, administratiewe hoof van Huis Triomf, het Meals on Wheels ook namens die seuns en bestuur bedank.
Volgens Kumutu bestaan Meals on Wheels al 55 jaar in Suid-Afrika en voorsien sowat 29 miljoen etes aan senior burgers en gestremdes jaarliks.
Die organisasie is die laaste agt jaar aktief op Oudtshoorn en voorsien maandeliks tussen 18 000 en 19 000 etes aan senior burgers, gestremdes en kwesbare kinders. Kumutu kan vir meer besonderhede oor Meals on Wheels Oudtshoorn by sel 074 818 4060 geskakel word.
• Dit gaan tans moeilik met Huis Triomf om kop bo water te hou omdat die subsidie wat die tehuis van die staat ontvang nie al die koste dek nie. Inwoners en ondernemings van Oudtshoorn en die Suid-Kaap wat bereid is om tot Huis Triomf by te dra, kan navrae rig aan 044 272 2550 of 060 699 5316.
Deur Garnett Wicomb