Shintino uiteindelik begrawe

Die liggaam van Shintino van Wyngaardt (7) word na die graf gedra. Sy moeder, Shonique, is links voor. Foto: Deon Meyer

DIE moeder van die sewejarige Shintino van Wyngaardt, Shonique van Wyngaardt, kon uiteindelik berusting vind. Sy kon na ’n wagtyd van drie maande haar seun Sondag (11 Julie) by Hoeko buite Ladismith ter ruste lê.

Lundi Yoxo Begrafnisdienste van Oudtshoorn, wat aangebied het om die familie gratis te help en vir Shintino ’n waardige begrafnis te gee, het die oorskot na Hoeko gebring.

Shintino se erg verbrande liggaampie is op 5 April 2022 in ’n vlak graf op die plaas Hartmansleegte gevind. Shintino is klaarblyklik eers vermoor en daarna is sy liggaam aan die brand gesteek. Sy identiteit is eers bevestig nadat forensiese toetse op Oudtshoorn op sy liggaam gedoen is.

Vir die familie van Shintino was hierdie wagtydperk ’n nagmerrie.

“Ons kan nie voortgaan met ons lewens nie. Soms hoop ek dat Shintino by die huis sou instap, al het ek geweet hy is dood,” het ’n hartseer ouma , Theresa van Wyngaardt, in Mei telefonies aan die verslaggewer gesê.

Op 15 Junie het die familie weer hul ongelukkigheid met die situasie te kenne gegee.

Op navraag aan Deidrè Foster van die kantoor van die ombudsman van die Wes-Kaapse Polisie het sy aangedui dat sy sal aandag skenk aan die saak en dit aan die ombudsman deurgee.

Sy het ook die familie gekontak en verseker dat aandag aan die saak geskenk word.

Die familie het na die begrafnis in ’n WhatsApp-boodskap hul dank aan die pers en die begrafnisondernemer uitgespreek. (Deur Deon Meyer)