Helderder toekoms wink vir Arabella na onlangse operasie

Arabella Leeuw (3), bo na haar onlangse operasie en onder voor dit. Foto’s verskaf

DAAR is voorwaar niks wat vergelyk kan word met die intensiteit van ’n ma se liefde nie. En wanneer daardie ma ’n kind het wat ly of siek is en wie se jong lewe ernstig daardeur geaffekteer word, sal daardie selfde moe­derlike liefde vinnig verander en daar­die ma onophoudelik vir haar kind baklei.

Dit is presies die deursettingsvermoë en veggees wat Tamson Leeuw van Oudtshoorn gemotiveer het om haar dogtertjie, Arabella, te help. Sy het na Arabella se geboorte haar werk by ’n kleuterskool prysgegee om voltyds na haar dogter te kyk.

Arabella se pa, Jason, is ’n petrol­joggie in die Oos-Kaap.

Arabella (3) se tong was sedert haar geboorte buitengewoon geswel, en as gevolg daarvan het sy gesukkel om te praat, om asem te haal, om te eet en te drink.

Deur Arabella se situasie gereeld in die kollig te plaas en met die Leeuw-gesin se verhaal op die Facebook-blad Oudtshoorniete Staan Saam wat baie blootstelling gekry het, lyk Arabella se toekoms na ’n onlangse ope­rasie nou baie helderder.

Tamson se jarelange kruistog om hulp – medies en finansieel – vir Arabella te kry, het vroeër vanjaar die aandag getrek van die bekende Afri­kaanse sangeres Nadine.

Nadine het besluit om in te spring en te help. Haar ingryping het die maatskappy AE Switch betrokke gekry, wat gehelp het om onder meer Arabella se mediese koste te dek.

’n Video met Arabella se storie op YouTube waarin Nadine met Tamson en Jason gesels, het al landwyd harte gesteel.

Met Arabella se verjaarsdag om die draai – sy word Maandag 18 Julie vier jaar oud – het Tamson gister (Woensdag) aan Die Hoorn gesê dat Arabella regtig goed vorder by die huis na haar laaste operasie by Cintocare in Pretoria op 1 Junie.

“Van die steke wat self moet oplos is nog in haar tong, en dit swel nog nou en dan so ’n bietjie, maar dit raak elke dag beter.

“Ons sukkel wel bietjie met die spraakterapie omdat ons Zoom-sessies daarvoor moet gebruik en loadshedding dinge affekteer, maar Arabella hou aan veg. Sy is sowaar ’n behoorlike sonstraal van ’n kind,” het Tamson gesê.

Hierdie was die tweede operasie in Arabella se kort lewe. Volgens Tamson is sy op een jaar en sewe maande oud in die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad geopereer, en sal sy hopelik nie weer vir ’n operasie hoef te gaan nie.

“Daar is ’n moontlikheid dat die ‘gogga’ kan teruggroei, maar dit kan sonder ’n operasie behandel word. Ons moet dit net vroeg genoeg raaksien,” het sy hoopvol gesê.

“Ons is regtig dankbaar vir al die aandag en hulp wat Arabella se storie al ontvang het. Ons grootste vrees was dat sy sou ophou asemhaal en nooit weer sou wakker word nie, maar God het ons harte gesien. Ek hoop regtig dat mense, oral waar hul­le haar storie sien of lees, sal besef God leef en dat hulle nooit moet ophou glo nie; al lyk die pad ook hoe lank en donker. Daar is altyd hoop.” (Deur Stefan Skapie Goosen)