Die Vrouelandbouvereniging, Kaapland (VLVK) is ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop gemik is om vroue van alle ouderdomme te bemagtig, by te staan en aan te moedig om nuwe vaardighede aan te leer in ’n gesellige en ondersteunende omgewing.
Die VLV in Oudtshoorn is gestig op 17 Junie 1941. Die voorsitter vir 2024, Petro Doman, sê dat hulle baie opgewonde is oor die opwindende jaar wat voorlê.
“Die 90ste Konferensie van die VLVK gaan op die 6de Maart in Vleesbaai plaasvind”, het sy opgewonde aan Die Hoorn gesê.
Ses lede van die Oudtshoorn-tak gaan ook dan aan die kompetisie deelneem tussen al die SWD-takke tydens hierdie konferensie, waar die artikels wat hulle gemaak het tydens hul kursusse en werkswinkels, beoordeel gaan word.
Doman sê dat die VLV se doel daarop gerig is om vroue te bemagtig.
Of dit nou is deur iemand te leer hoe om pragtige skeppings uit hernubare materiaal te maak, of om te leer hoe om brood te bak deur dit te roer in plaas van dit te knie, asook enige iets wat interessant is en jou belangstelling omskep in ’n vaardigheid.
Die programme waaruit lede kan kies om aan deel te neem is: leefstyl, kunste en handvlyt, gesondheid, openbare sake, opvoeding en kultuur en landbou en tuinbou.
Elke maand is daar ’n vergadering waar elke program ’n beurt kry om ’n werkswinkel of demonstrasie aan te bied.
“Ons wil nie hê mense moet dink dis net naaldwerk, bak en hekel nie.
Ons het relevante projekte en temas wat ons aanpak”, sê Doman verder.
Hul probeer ook terugploeg in die gemeenskap.
Na afloop van ’n kunsprojek wat aangebied was, het hulle al die kleurpotlode wat gebruik was, uitgedeel aan skole in die SWD-distrik.
Die VLV vergader een maal ’n maand op die 2de laaste Dinsdag van die maand in die saal by Milleniumpark Aftree-oord.
Doman nooi alle vroue van alle ouderdomme om by hierdie ongelooflike organisasie aan te sluit. (Deur Lindi Brill)
Ses VLVK-vroue van Oudtshoorn neem deel aan SWD-kompetisie
Van links is Trienie Barnard, Petro Doman, Susan Badenhorst, Annette Greeff en Isabella Janse van Nieuwenhuizen, wat op 6 Maart 2024 aan die SWD-kompetisie by die Vrouelandbouvereniging, Kaapstad se konferensie in Vleesbaai gaan deelneem. Foto verskaf