’n Bekende inwoner van Oudtshoorn en voormalige skoolhoof van Bergsig Primêre skool in Bridgton, Simon Swigelaar (90), is verlede Vrydag, 2 Februarie, oorlede.
Swigelaar sal veral onthou word vir sy bydrae tot eenheid in Suid-Afrikaanse krieket.
Hy was een van drie lewenslange erelede van Krieket Suid-Afrika tydens sy afsterwe.
Hy laat ‘n indrukwekkende krieketnalatenskap, wat oor meer as 50 jaar strek, as speler, skeidsregter, administrateur en keurder agter.
Gedurende sy loopbaan het Swigelaar talle toekennings ontvang, waaronder die Khaya Majola Lifetime Achievement Award, wat erkenning gee aan sy blywende bydrae tot die bevordering van Suid-Afrikaanse krieket.
Sy impak het ook verder gestrek as die krieketveld, soos blyk uit die 2003 Lifetime Achievers Award van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport wat aan hom toegeken was.
Hy was ook baie geliefd onder sy leerlinge. Volgens ’n inskrywing op die sosiale platvorm Facebook, sê een van sy oud-leerders, Mnr. Jackson, wat ook voorsitter van die Union Stars krieketklub was, dat hy baie meer respek as vrees vir Swigelaar gehad het.
Volgens hom was een van Swigelaar se gunsteling gesegdes gewees, “A child in sport is a child out of court”.
Swigelaar se gedenkdiens is vandag, 8 Februarie om 18:00 by Weyers Memorial UCC.
Die begrafnis diens sal Saterdag, 10 Februarie om 11:00 wees, ook by Weyers Memorial UCC. (Deur Lindi Brill)
Geliefde inwoner van Oudtshoorn oorlede
