Ses van Calitzdorp vra hof om ontslaan te word

Die saak teen ses verdagtes van Calitzdorp wat teregstaan op klagtes van roof met verswarende
omstandighede, poging tot verkragting, gewone aanranding en menseroof, is verlede Woensdag in
die Oudtshoorn streekhof tot 1 April 2025 uitgestel wanneer uitspraak gelewer sal word in hul aansoeke om deur die hof ontslaan te word. Die saak duur reeds sewe jaar.

Donovan Wagenaar (32), Adriaan Jansen (25), Nathan Grootboom (27), Ruiter Kamoetie (47),
Renaldo Jelander (32) en Jeraad Meshoa (35) versoek die hof om hulle te ontslaan omdat die staat
die afhandeling van die saak vertraag en nie genoeg getuienis voor die hof gebring is om hulle
skuldig te bevind nie.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, staan die aansoek teen en voer aan dat staat ’n baie sterk
saak het en dit die beskuldigdes se eie toedoen is dat die saak na meer as sewe jaar nog nie afgehandel is nie. Volgens Goulding is dit te wyte aan verskeie faktore soos onder meer dat die
beskuldigdes oor die jare voortdurend van regsverteenwoordigers verander het en menige keer
weggebly het van die hof.

Die ses het na bewering op 3 Januarie 2016 vir Petrus Pieterse, by almal bekend as Peet, met
kapmesse geslaan, hom van meer as R5 000 kontant, twee selfone en 30 bottels bier beroof.
Pieterse is intussen oorlede.

Die saak word deur streeklanddros Retha Pretorius aangehoor wat verlede week die skriftelike betoogshoofde van die ses se regsverteenwoordigers en die staat ontvang het vir oorweging van ’n
beslissing. Die beskuldigdes word deur Adv Charlene Williams, Louise Luterick, Lizaan Prinsloo en
Eugene Roos verteenwoordig.

Drie van die beskuldigdes is op borg en drie in aanhouding. (GARNETT WICOMB)