

Die enigste privaatperseel in Oudtshoorn waar hawelose diere ’n heenkome kan vind, sluit moontlik
binne die volgende aantal maande.
Ansa de Jager, die stigter van die dierewelsynsorganisasies, Oudtshoorn Diereherberg, het hierdie
week gesê die kostes om die herberg aan die gang te hou raak eenvoudig onbekostigbaar vir
haar. Sy het die diereherberg se perseel noodgedwonge bekom en ingerig nadat sy en nog ’n
organisasie, Oudtshoorn Dogs in Need, in 2023 opdrag gekry het om hulle diere uit die munisipale
skut te verwyder.
“ODIN het ’n perseel in George wat hulle gebruik, maar ek het besluit ek wil ’n perseel hier in
Oudtshoorn inrig wat toeganklik is vir Oudtshoorn se mense. Met die hulp van ’n handjievol
welwillende donateurs kon ons die herberg oprig en ek dink daar is al omtrent ’n halfmiljoenrand
daar ingesteek,” het De Jager gesê. Sy sê egter dit is hartseer dat Oudtshoorn se mense so traag is om die Oudtshoorn Diereherberg te ondersteun.
Haar lopende kostes om die herberg aan die gang te hou beloop bykans R50 000 per maand en dit sluit nie die kostes van veeartse in nie.
“Ek kan net nie meer van slegs ’n klein groepie mense verwag om elke keer by te dra nie en ek kan
ook nie meer my eie fondse elke maand gebruik nie. Ek het besluit om die herberg nog vir ongeveer
ses maande oop te hou totdat ek vir elke hond wat hier is ’n huis gevind het. Ek gaan ook geen nuwe honde meer inneem nie,” het sy Dinsdag op die perseel gesê.
Sy sê daar is soveel wanopvattings oor dierewelsyn, wie betrokke is en wat gedoen word, dat sy
nie meer kan voorbly om die korrekte inligting op sosiale media te plaas nie. Die realiteit is dat sy
tans 21 hokke en afgekampte areas op die perseel het waar 75 honde vir aanneming gehuisves word.
Dit is honde wat van eienaars weggeneem is, honde wat op versoek van eienaars geneem word
omdat hulle die diere nie meer kan versorg nie sowel as honde wat mense net by die herberg
aflaai.
Volgens De Jager gebeur dit soms dat mense eenvoudig net honde daar los sonder enigiemand
se medewete. “Ons het byvoorbeeld een oggend hier gekom toe lê daar ’n streepsak wat met draad
toegebind was, binne die heining. Toe ons dit oopmaak was daar ’n hondjie binne. Iemand het die
sak met die hond deur die nag oor die draad gegooi.”
Op ’n vraag of sy al met die munisipaliteit gesels het oor die moontlikheid dat hulle die perseel kan
oorneem om die bestaande een se kapaisteit te verhoog, het sy gesê dat sy nog beplan om in gesprek met hulle te tree.
Die Hoorn het sowat vier weke gelede reeds met vorige beriggewing oor diere-organisasies vir die munisipaliteit ’n navraag oor die huidige werksaamhede van die munisipale skut gestuur, maar nog geen terugvoering ontvang nie.
Mense wat Oudtshoorn Diereherberg wil ondersteun of belangstel om ’n hond aan te neem kan
Ansa by 072 070 5977 kontak.
Aannemings is nie gratis nie aangesien die koste van inentings en sterilisasie gedek moet word. (HANNES VISSER)
Van die honde wat tans by Oudtshoorn diereherberg is en dringend liefdevolle huise soek:

