
Gate glo in teiken gedruk met potlode of penne
SES studente wat opleiding by die SAPS Akademie op Oudtshoorn ontvang het, is uit die Polisie geskors weens ’n verneukery tydens skiettoetse wat deel van hul opleiding is.
Na wat uit ’n betroubare bron verneem word, het hulle te swak geskiet om die skiettoets te slaag. Hulle het toe met potlode of penne gate in die teiken gedruk sodat dit lyk of hulle goed genoeg geskiet het om die toets te slaag, word verneem.
Die voorval het Maandag, 25 Junie, plaasgevind. Die ses studente is toe vroeg in Julie departementeel verhoor en is hulle kontrakte beëindig.
• Na wat verneem word, word genl maj Sandra Malebe-Thema van die SAPD vandeesweek departementeel verhoor in verband met gebeure binne die Eden-gebied. Sy het na bewering studente wat nie die skiettoets geslaag het nie, laat uitpasseer.
Malebe-Thema het op 7 November 2016 ’n opskudding veroorsaak toe sy na bewering onder meer rassistiese uitlatings teenoor opleidingsbeamptes van die SAPD Akademie op Oudtshoorn gemaak het terwyl hulle op ’n verhoog voor sowat 450 studente gestaan het.
In verband hiermee is daar na wat verneem word ’n saak van menseregteskendings hangende in die Arbeidshof.
• Die Hoorn het navrae aan die betrokke polisie-owerhede gestuur vir kommentaar op die beweringe hierbo, maar het met die ter perse gaan van die koerant nog geen reaksie ontvang nie.