Ses aangekla van aanranding en roof

Die saak teen ses verdagtes van Dysselsdorp wat van menseroof en aanranding om ernstig te beseer aangekla word, is Woensdag in die Oudtshoorn streekhof vir verhoor tot 22 Julie uitgestel.

Raydile Lewis (23), Andrew Prins (36), Marthinus Malgas (24), Francois Karelse (34), Rodwill Lewis (22) en Juwayne Le Roux word daarvan aangekla dat hulle op 4 September verlede jaar vir Steven Plaatjies (32) op Oudtshoorn in ‘n taxi van Le Roux gedwing en met hom na Dysselsdorp gery het.

In Leroux se woning het hulle hom toe glo in ’n bad koue water gegooi, en met ‘n graaf en hamer geslaan omdat hy die geld waarmee hy na bewering dwelms vir Leroux moes gaan koop, verloor het. Plaatjies het danksy die polisie losgekom.

Die saak is deur streeklanddros Daniel Boks vir twee dae se verhoor uitgestel. (GARNETT WICOMB)