Skielike dood van Niel skok

Niel Els. Foto Facebook

Niel Els, ’n bekende in toerisme-, sake- en sosiale kringe wat 12 jaar op Oudtshoorn was voordat hy in 2021 na Houtbaai verhuis het, is Dinsdagaand 11 Februarie in Kaapstad dood. Teen spertyd was die omstandighede van sy dood nie bekend nie. Die Oudtshoorn sake- en toerisme gemeenskap het Woensdag met skok van sy dood verneem.

Els het 15 jaar gelede na Oudtshoorn verhuis om die Turnberry Boutique Hotel te bestuur waarin hy ook ’n aandeel besit het. Met die Covid-19 pandemie was Turnberry Hotel een van die talle slagoffers in die hotelbedryf en dit is verkoop. Els het ’n werksaanbod by die Vida Nova Retreat in Houtbaai aanvaar wat deel is van ’n hotelgroep met hotelle wêreldwyd.

Tydens sy verblyf op Oudtshoorn was Els onder meer voorsitter van Oudtshoorn Toerisme, die Oudtshoorn Besigheidskamer, Famsa Karoo en SCEP (South Cape Economic Partnership).

Hy het ook in verskeie hoedanighede op Skål SA se bestuur gedien – onder andere as president van Skål SA en as vise-president van Skål Internasionaal. Skål is ’n organisasie wat toerisme nasionaal en internasionaal bevorder.

Tydens sy afskeid in 2021 het Els gesê: “My twaalf jaar hier was van die beste in my lewe. Ek gaan hier weg met ’n hart vol vriende.” (HANNES VISSER)